1999

WHS wen Superliga


Andrew Poolman

DIE Superliga-rugbytrofee van Metropolitan is Saterdag vir die laaste keer dié millennium by Windhoek Hoërskool staangemaak. Samsung WHS het die Hoër Tegniese Skool met 10 - 3 as kampioen onttroon. Rustyd was dit 3- elk nadat Willie Greeff en Ettienne Hanekom elk met ʼn strafskop geslaag het. Die wendrie vir WHS is halfpad deur die tweede helfte deur die vleuel Gerhard Fourie gedruk. Die WHS-agterlyn het HTS heelwat probleme besorg, met veral die senter Ryan de la Harpe en heel-agter Jurie Booysen baie gevaarlik. WHS kon inderdaad verder gewen het as sy afronding beter was. HTS kon nie voorlangs sy stempel afgedruk kry nie. Losskakel Kola Burger

het vir WHS ver veld gewen met skoppe wat HTS se vleuels in die dwarrelende suidewind nie kon beheer nie , terwyl WHS ook ʼn paar belangrike lynstane by HTS afgeneem het. Drie spanne van P.K. de Villiers en een span van die Keetmanshoopse Private Skool was in die eindstryde betrokke, waarvan twee aan die wenkant was. Dié spanne moes die afgelope drie naweke (van die kwarteindstryde af) altesame 3 000 km heen en weer ry Windhoek toe. Japie Blaauw, losskakel van P.K. de Villiers I, is as die beste agterspeler bekroon en Frikkie Maartens, o.15-flank van Otjiwarongo, as die beste voorspeler. WHS II het die mooispeel-beker verwerf.