2000

WHS wen vyf uit ses


Andrew Poolman

WINDHOEK Hoërskool se eerste rugbyspan het Saterdag in die Nasionale Rugbystadion sy vyfde titel in ses jaar om die Metropolitan Raadstrofee ingepalm. Van die ses spanne van WHS wat in die eindstryde gespeel het, was vyf aan die wenkant.

Die eindronde was weer eens 'n groot sukses vir skolerugby, en afgesien van twee eindstryde was byna almal tot in die laaste sekondes in die weegskaal. In nege wedstryde is altesame 45 drieë gedruk - 'n goeie gemiddeld van vyf in wedstryde wat net 'n halfuur aan 'n kant duur.

Samsung WHS se eerste span het die Superliga-eindstryd teen P.K. de Villiers met 40 - 13 gewen nadat hulle rustyd tot 15 - 10 beperk was.

Soos verwag het die Keetmanshopers se voorspelers goeie rekenskap van hulselfgegee, maar die tempo waarteen WHS gespeel het, was verbysterend en die besluitneming foutloos. Spelers het met vaart en uit diepte aangeval en net voordat die baldraer homself vasgehardloop het, was daar sonder uitsonderin twee, die spanmaats aan sy skouer om die beweging verder te voer.

Die kaptein Charles van Schalkwyk en sy losmaats Dawie Marx en Gert Grobler het verseker dat die agterlyn sy balbesit vinnig en op die voorvoet gekry het - en die manne het behoorlik baljaar.

Die heelagter Tinus Venter, ʼn volmaak gebalanseerde hardloper en self ’n gewese PK-speler het twee drieë gedruk, Lu-Wayne Botes een, terwyl Marx (2) en die slot Adie Theron ook oor die doellyn gebars het. Botes het met drie strafdoele en twee doele geslaag.

Vir P.K. de Villiers was dit 'n deurbraak om na 22 jaar weer welverdiend die eindstryd te haal. Die span het positiewe rugby gespeel en 'n drie deur die slot Neil Andrews het hulle na 16 minute laat voorloop nadat hulle van 'n strafskop verkies het om aan te val. Donovan Vlees was suksesvol met die doelskop en twee strafdoele. WHS 1 het die mooispeel-beker gewen.