2001

WHS bo, maar hoede af vir Mariental-rugby


Andrew Poolman

DlE Hoërskool Mariental het Saterdag die boodskap hard en duidelik aan die ander rugbyskole gestuur: Windhoek Hoërskool is nie onoorwinlik nie en spanne wat sommer net boedel oorgee en weier om teen WHS te speel, behoort hulle te skaam.

WHS het die Metropolitan Superliga vir die derde jaar in ’n ry gewen, maar of hy op die dag die beter rugby gespeel het is ʼn ope vraag.

WHS het met 15-3 gewen te danke aan twee drieë en vyf skoppunte deur die blitsige heelagter, Tinus Venter. WHS was vir omtrent vyf minute op Mariental se doellyn voordat Venter in die laaste minuut ’n drie gedruk en verdoel het. Andersins was die punteverskil nooit meer as vyf punte nie.

In die eerste 26 minute kon geen span punte aanteken nie. Rustyd was dit 3-3 en nege minute later het Venter se vaart hom van die halflyn af om die verdediging gedra vir sy eerste drie. Die telling het 8-3 gebly tot sy tweede drie in die laaste minuut.

Mariental was reg gemotiveer. Hoewel hul voorspelers nie so lank of swaar soos die van WHS is nie, het hulle in een faset ’n enkele duim teruggestaan nie.

Hul durf en toewyding op die verdediging het verseker dat WHS nie uit ’n enkele beplande beweging ’n drie gedruk het nie.

Veral Mariental se Iostrio, John Mbaha, Duedath Kotze en Franklin Tiboth en die kaptein FJ van Zyl het reusewerk verrig.

Mariental se losskakel en potensiële wedstryd-wenner, André Hough se taktiese en stelskoppe was nie so akkuraat as die vorige twee naweke nie en gevolglik was hy nie so ’n groot faktor nie. Die druk op hom was byna oorweldigend en hoewel hy ’n paar keer mooi gebreek het, is hy eenvoudig te goed opgepas.

Aan WHS-kant was twee van die uitblinkers die Cravenweekflanke Tinus du Plessis en Pieter-Jan van Lill, wat beide nog in Graad 11 is. Jacques Burger is ook baie gebruik om WHS vorentoe te neem.