2002

Walvisbaai kraai koning


Skolerugbytrofee kus toe ná 28 jaar.

Andrew Poolman

MET vyf pragdrieë teen nul het die Hoërskool Walvisbaai se eerste rugbyspan Saterdag die eerste keer in 28 jaar die eindstryd van die Metropolitan Superliga ingepalm.

Walvisbaai se sege met 29 - 6 teen Otjiwarongo in die Onafhanklikheidstadion kon beswaarlik meer oortuigend gewees het.

Otjiwarongo het vlugtig met 6 - 5 voorgeloop toe sy losskakel Johan Moller sy tweede strafdoel behaal het, maar van toe af was daar nie keer aan Walvisbaai nie.

Drieë deur die haastige vleuels Faan van Staden en Winton van der Westhuizen en flank Bennie Gloeditsch het Walvisbaai rustyd met 17 - 6 laat voorloop.

Die oorwinning is egter ingevryf met twee pragdrieë in die tweede helfte. Eers het die skrumskakel P.J. Balhao van 'n skrum gemik asof hy sy agterlyn na links gaan wegstuur, voordat hy omgeswaai en ná 'n opwindende naelloop van 30 meter teen die kantlyn af in die regterkantste hoekie gaan oorduik het.

Die lang binnesenter Bradley Langenhoven het ook 'n verskeidenheid vaardighede uitgestal in die middelveldlopie van 60 meter wat op 'n puik drie uitgeloop het. Sy versnelling, aftrap, fopaangee en oordeel het die laaste spyker in Otjiwarongo se doodkis geslaan.

Die losskakel Gert Olivier het weer 'n afdag met sy stelskopwerk pale toe beleef, maar op die ou end het dit nie veel saak gemaak nie. Die verwoede stryd voorlangs het redelik gelykop geëindig, maar dit was agterlangs wat Walvisbaai sy skietgoed meer doeltreffend gebruik het.

Dit was 'n heuglike dag vir Walvisbaai-rugby toe die kaptein en slot Leeroy Rentzke die Superliga-trofee van Metropolitan omhoog gelig het. Die afrigters Danie van Antwerpen en Willie van Zyl het vanjaar 'n uitstekende taak verrig.