2003

WHS weer bo


Andrew Poolman

AS Naas Botha darem Saterdag moes sien hoe Dr. Lemmer die eindstryd van die Metropolitan onder 19-Superliga deur hul vingers laat glip het, sou hy beslis een of ander pittigheid te sê gehad het.

Dalk iets soos hoe hy met 'n skepdoel in die laaste minuut van die 1979 Curriebeker-eindstryd gesorg het dat Noord-Transvaal en die Westelike Provinsie die beker deel. Omdat Buurman van Zyl hom geleer het speel eers gelykop en probeer dan wen.

Daardie tikskoppie voor die pale in die laaste sekondes van die eindstryd teen Samsung Windhoek Hoërskool sal seker nog lank by Dr. Lemmer spook.

Met speeltyd op die telbord verstreke en WHS met 20 - 17 voor, het Dr. Lemmer 'n strafskop vlak voor die pale gekry. Oomblikke tevore het Howard Titus van 'n veel moeiliker posisie die regoppaal getref, maar dié keer wou Dr. Lemmer met die laaste beweging 'n drie probeer druk. WHS se verdediging het hulle egter by die kantlyn uitgedruk en die eindfluitjie was musiek in WHS se ore.

Dit het beteken dat Dr. Lemmer net silwer medaljes pleks van goues kan wys vir die onvergeetlike seisoen wat hulle agter die blad het.

In die rekordboeke sal opgeteken bly dat WHS die eindstryd met 20 - 17 gewen het.

Dit was 'n eindstryd wat spanning en opwinding en hope aksie gelewer het. Die punteverskil was nooit meer as sewe nie.

Die aanmoediging uit 'n stampvol pawiljoen het bygedra tot 'n toetsatmosfeer, met spelers wat dikwels nie mekaar of die fluitjie nie kon hoor nie.

Dr. Lemmer, wat verlede jaar nog in die A-liga gespeel het, kan groot selfvertroue neem uit die feit dat hy WHS se mantel van onoorwinlikheid afgeruk het. Dit wys egter ook dat geen finalis bloot tevrede kan wees om die eindstryd te haal nie, maar met 'n werklike verwagting van oorwinning op die veld moet draf.

Dr. Lemmer het eerste bloed geruik met 'n wegbreekdrie binne drie minute deur die flank Yoshiro Klazen. Howard Titus het oorgeskop.

WHS het die telling gelyk gemaak toe sy kaptein en slot Braam Vermeulen oorgedryf en Guillaume Nel se doelskop deur die pale geseil het. Nel het kort daarna 'n strafdoel bygevoeg om WHS met 10 - 7 te laat voorloop.

Die Rehobothers het onmiddellik teruggekap met 'n aanvallende beweging, eers na regs en toe terug na die linkervleuel Russel Olivier wat die lopie met 'n drie afgerond het. Titus het van die kantlyn af oorgeskop om sy span rustyd met 14 - 10 te laat voorloop.

Sewe minute ná rustyd het WHS 'n aanvallende skrum gebruik om die linkervleuel Johan van der Merwe te laat deursny vir 'n drie. Nel se doelskop was mis, maar WHS was weer voor (15-14).

Titus het weer 'n strafdoel gekry om sy span met twee punte te laat voorloop. In die laaste 20 minute het hy egter altesame drie keer strafskoppe binne WHS se tienmeterlyn gekry wat nie pale toe gemik is nie.

WHS se wendrie is gedruk met skaars 'n minuut speeltyd oor toe die loskopstut Ben van der Merwe van 'n lynstaan af oorgedryf het.

More Entries