2004

WHS se wenspan is van die bestes


Andrew Poolman

DIE eerste rugbyspan van Samsung Windhoek Hoërskool wat Saterdag die Metropolitan o.19 Superligatitel behou het, sal waarskynlik in dieselfde asem genoem word as die bestes wat die skool nog gelewer het. Die blou truie was onkeerbaar in die eindstryd en hoewel die Hoërskool Walvisbaai moedig probeer het, het WHS hulle in die tweede helfte stukkend gehardloop om met 65-6 te wen.

Rustyd was dit 22-6, maar van toe af het die kusspan se kragte vervaag, terwyl WHS al hoe vinniger en sterker geëindig het. Terwyl Walvisbaai hom waarskynlik voorberei het om WHS se dinamiese agterlyn van spasie te ontneem, is hulle eerder verras deur die felheid van die aanslag van WHS se voorspelers. Afgesien van twee strafdoele deur Jannie Silwer was agt die kusspan selde 'n bedreiging en te kon hulle nie die vorm herhaal wat HTS uitgeskakel het nie.

Met hul vaart het die WHS-kaptein Braam Vermeulen (slot) en sy tweelingbroer Andre (agtsteman) groot gate oopgeruk elke keer wanneer hulle die bat in die hande gekry het. Die twee is sweerlik van die mees atletiese voorspelers wat nog in Namibië gesien is en die land se rugbybase behoort uit hul pad te gaan om te verseker dat die regte geleenthede vir spelers soos se hulle geskep word om die volgende trap na die senior nasionale span te klim. Die WHS-span bevat egter verskeie ander sterre wat Saterdag 'n lang pad saam afgesluit het. Die binnesenter Dian Jacobs het benewens twee drieë ook 'n strafdoel en sewe doelskoppe bygedra. Dis nog 'n begaafde speler wat duidelik ernstig is oor sy rugbyloopbaan. Die ander driedrukkers was die vleueI Quinton van Rooyen (2), flank Christi van Schalkwyk (2), senter Sean van Dyk, slot Braam Vermeulen, reserwe-flank Morton van Kradenburg en heelagter Eugene Jantjies wat ook ’n doelskop bygevoeg het.

Die kampioenspan het na skaars drie minute sy slot DC Grobler met ’n dyspierbesering verloor. Walvisbaai het ook halfpad deur die tweede helfte 'n slag gely toe sy vurige kaptein en beste speler op die dag, Nico Robberts, met 'n beenbesering afgedra is.

WHS is op die veld gelei deur die stut Ben van der Merwe, wat sy 50ste wedstryd vir die eerste span gespeel het. Van WHS se beginspan bly net Eugene Jantjies, Stefan du Rand, Daryl de la Harpe, Shaun Esterhuizen en Du Preez van Staden in 2005 oor, asook ses van die reserwes.

Daar kan egter ook gebou word op vanjaar se tweede span, wat Saterdag die o.19A-liga gewen het deur Etosha van Tsumeb se eerste span met 19-5 te klop. Die wenspan het drieë deur vleuel Ian Nel, senter Sergio de la Harpe en stut Casper Viviers behaal.

WHS het die titel nou agt keer sedert 1995 gewen met die enigste onderbrekings deur HTS (1998) en Walvisbaai (2002).