2005

Straatslim WHS wen


Andrew Poolman

WINDHOEK Hoërskool se ervaring om eindstryde te wen, was Saterdag straks die deurslaggewende faktor in sy verowering van die Metropolitan o.19 Superliga, sy negende titel in elf jaar. Samsung WHS het 'n wisselvallige seisoen beleef en vele kenners het die Private Skool Elnatan van Stampriet, onoorwonne in die liga, as die gunsteling vir die eindstryd beskou. WHS het egter oortuigend met 24-15 gewen in sy beste vertoning van die jaar. Dit blyk dat WC Knight Elnatan nie hul hoogtepunt van ʼn week tevore kon herhaal nie. Elnatan het Dr. Lemmer in die halfeindstryd uitmekaar gespeel, maar kon Saterdag nie dieselfde momentum opbou nie. 'n Belangrike rede was dat WHS die oranje span se sterkpunt, die lynstane, geneutraliseer het. Elnatan het volgens een telling net drie lynstane in die ganse 60 minute gewen, met WHS wat sy strategie perfek uitgevoer het om telkens op Elnatan se ingooi twee springers in die lug op te stuur. Die sielkundige druk op Elnatan was klaarblyklik ook te veel. Die span het vanjaar al sy ligawedstryde gewen en sy ondersteuners het in groot getalle na die Hage Geingob-stadion gestroom. Waarnemers van WHS het agterna daarop gewys dat Elnatan se eerste span heeldag by die stadion was en op hul voete was, teenoor WHS se gewoonte om nie meer as 'n uur of twee voor die afskoptyd op te daag nie. Ondanks alles het Elnatan naby gekom genoeg om 'n sensasionele oorwinning te behaal. Senter Herman de Wet se skitterende drie en doelskop het die suidespan se agterstand tot net vier punte laat krimp (15- 19) met ses of sewe minute oor.

Daar was inderdaad sowat vyf minute meer op skeidsregter Frik Engelbrecht se horlosie oor as wat die elektroniese telbord aangedui het. Pleks van hulself dus tot in WHS se gebied te skop en soos hulle heeljaar gedoen het, die druk toe te pas tot die punte kom, het Elnatan egter gejaagd gevoel en vanuit hul eie helfte probeer aanval. WHS het hulle egter nie 'n tree oor die voordeellyn toegelaat nie en het inderdaad die bal afgeneem vir skrumskakel Riaan Vermaak om na 'n lopie van 30 meter die finale spyker met 'n drie in te slaan.

WHS se heelagter Eugene Jantjies het nie sy beste skopvertoning gelewer nie, maar het met sy algemene spel die trofee as beste agterspeler van die dag ingepalm. Hyself het die eerste drie gaan

druk na 'n steelkantbeweging met vleuel Stefan du Rand, voordat hy in die tweede helfte ook twee keer hanteer het in die beweging wat tot linkervleuel Ian Nel se drie gelei het.

Jantjies, wat hom twee weke gelede by die uitsoekgroepie aangesluit het wat 50 wedstryde vir die WHS eerste span gespeel het, het met drie strafdoele geslaag. Elnatan se punte was drieë deur stut Stefan Labuschagne en senter Herman de Wet, 'n doelskop deur De Wet en 'n strafdoel deur Keady Strauss. WHS se eerste span het die mooispeelbeker ingepalm. Die trofee vir die beste voorspeler van die dag is aan Coenraad Botes, slot van WHS se o.16-span, oorhandig.

More Entries