2006

Elnatan nuwe kampioen ná bulstryd


Wiets Coetzee

DIE Privaatskool Elnatan van Stampriet is Saterdag as die superligakampioen vir 2006 gekroon nadat hy vir WHS met 23-20 in die eindstryd van die Metropolitan-raadbekerkompetisie geklop het. Vir WHS was dit 'n geval van so naby maar tog so ver toe hy net nie kon slaag om dié gesogte trofee vier jaar agtereenvolgend te wen nie.

Die wedstryd het skouspelagtig soos net skolerugby dit kan doen voor volgepakte pawiljoen die Hage Geingob-stadion opgelewer. Dit was van die afskop duidelik dat die Elnatan-voorspelers opgedraf het met een doel voor oë en dit was om balle te wen. Hulle het met krag gedryf en hulle het die oorhand oor die Samsung WHS-voorspelers gekry.

Ná vier minute se speeltyd het die Elnatan-slot, Jasper van Dyk wat ook vanjaar vir Namibië in die 0.19-wereldkampioenskap gespeel het die bal uit die losgemaal gekry en Elnatan se eerste drie gedruk. Keady Strauss, die kaptein en losskakel, het met die doelskop geslaag om die Stampriet-bulle met 7-0 te laat voorloop. Elnatan het bly aanval met sy voorspelers en telkens het hulle die WHS-span in sy eie gebied ingedryf. Die skeidsregter het WHS vir hande in die skrum gestraf en Strauss het die voorsprong na 10-0 gerek. WHS het ʼn strafskop in Elnatan se kwartgebied gekry en verkies om te skrum. Die bal is vinnig in die agterlyn afgestuur en Burger Fourie, het WHS se eerste drie in die regterhoek gedruk. Ewald Steenkamp, die WHS-losskakel, kon nie verdoel nie.

Strauss het nog twee strafskoppe oorgejaag en Steenkamp het ook met ʼn strafskop geslaag om die rustydtelling 16-8 in Elnatan se guns te maak.

Aan die begin van die tweede helfte het dit gelyk of Elnatan te sterk is vir WHS en die span het in WHS se gebied geboer. Die voorspelers het fases opgesit en telkens het die agterlyn aanvalle geloods wat WHS se agterlyn heeltyd op die verdediging gehou het.

Die Elnatan-senter, Niel van Wyk, het afgetrap en sy span se tweede drie gedruk, maar is in die proses beseer. Hy is ook gekies vir die Namibiese o.18-rugbyspan wat van 24 Augustus tot 3 September aan die Afrika-bekertoernooi in Marokko gaan deelneem. Strauss het die doelskop oorgejaag om Elnatan ʼn gerieflike voorsprong van 23-8 te gee. WHS het egter nie moed opgegee nie en met minder as 15 minute se speeltyd oor het hulle die krane oopgedraai en die Elnatan-spelers teruggedryf in hul eie gebied. Hulle het ook die bal gereeld na die agterlyn laat loop wat met spoed aanvalle geloods het. Die linker-vleuel, André Nel, het in volle vaart die bal by sy sentermaat gekry en in die hoek vir WHS gedruk. Steenkamp het gemis met die doelskop en Elnatan was met 23-13 voor. Aan die suidekant van die hoofpawiljoen het die Elnatan-ondersteuners bankvas gesit en aan die noordekant was dit die WHS-ondersteuners wat hul span aangemoedig het.

Met net 10 minute op die horlosie oor het die WHS-senter Corné Bosman wat vanjaar in die Craven-week gespeel het, deurgehardloop en gedruk. Steenkamp het verdoel om die eindtelling 23-20 te maak. In die laaste paar minute van die wedstryd het WHS aanhoudend ot op die Elnatan-lyn gevorder, maar Elnatan se verdediging het gehou en hul eerste Metropolitan-raadsbeker in die superliga beklink.

More Entries