2007

WHS buit Raadsbeker


Wiets Coetzee

WINDHOEK Hoërskool is Saterdagaand gekroon as 2007 Metropolitan Raadsbekerwenners

van die onder 19-Superliga nadat hulle die Hoër Tegniese Skool in die eindstryd op die Hage Geingob Stadion geklop het.

WHS het die wedstryd met 14-12 gewen deur spel vol te hou en die wendrie te druk nadat die toeter reeds geblaas het. Die wedstryd was ʼn tipiese eindstryd en was belaai met strafskoppe.

Albei die spanne se skoppers het gesukkel met die skopwerk. Die skeidsregter, Danie Koen, het ook onophoudelik die twee spanne gestraf en die wedstryd het nie aanskoulike rugby opgelewer nie.

Gedurende die eerste helfte het altwee die spanne se skoppers geleentheid gehad om punte aan te teken, maar dit was net die WHS-senter Lean Stoop, wat daarin kon slaag om in die doodsnikke van die eerste helfte ʼn strafskop deur die pale te jaag om WHS met 3-0 teen rustyd te laat voorloop.

WHS het afgeskop ná halftyd en die twee spanne se voorspelers het mekaar behoorlik die stryd aangesê.

Die meeste van die tyd is die bal voor gehoue en telkens het WHS se voorspelers die HTS-manne terug gedryf in hul eie speelgebied in.

Stoop het met nog twee strafskoppe geslaag om sy span se voorsprong na 9-0 te vergroot.

HTS het ʼn strafskop gekry en die bal is in WHS se kwartgebied uitgeskop. HTS, wat deurentyd gesukkel het in die lynstane, het hierdie keer die bal skoon gevat op hul ingooi en die voorspelers het begin dryf met die bal. WHS het probeer verdedig, maar HTS se haker, PD Murray, het oor die doellyn gedryf en die drie is toegeken.

Die losskakel Raynold Bouwer het die drie verdoel en WHS se voorsprong het na 9-7 gekrimp.

Die bal is min in die agterlyne afgestuur en altwee die spanne se verdediging was ook goed. WHS het by tye op HTS se doellyn geboer, maar kon net nie deur die verdediging kom om die doellyn oor te steek nie.

Met twee minute speeltyd oor, het die HTS-voorspelers goed gedoen deur fases op te sit en vir die eerste keer is die spel nie stopgesit met ʼn strafskop nie.

HTS het met sy agterlyn aangeval en WHS se verdediging is op die buitekant deur die vleuel, Lezaan Alcock, geklop wat sy span se tweede drie in die hoek gedruk het. Die doelskop was mis, maar HTS was met 12-9 voor.

Met slegs ʼn paar sekondes oor op die horlosie is weer afgeskop. Die WHS-manne het aangeval en HTS is terug gedryf tot naby hul doellyn.

HTS se skrumskakel, Arthur Bouwer, het opgemerk dat speeltyd op die telbord verstreke is en hy het die bal bykans op sy doellyn uitgeskop. Die HTS-span het hulle arms in die lug gegooi, maar is vinnig ontnugter toe die skeidsregter aan hulle uitgewys het dat die telbord nie beseringstyd in berekening neem nie.

WHS het die bal by die lynstaan vyf meter van HTS se doellyn ingegooi.

Die WHS-spelers het gesien dat tyd min is en dat spel aan die gang gehou moes word. Die toeter het geblaas en die spelers het geweet dat indien hulle ʼn fout begaan of balbesit verloor, dit die einde van die wedstryd en die einde van hul drom om die Raadsbeker te wen, sal wees.

WHS se voorspelers het uiters goed gespeel en die balbesit is behou terwyl al HTS se spelers ingetrek is by die verdediging. Soos blits het die bal aan WHS se kant uitgekom en is ’n oorslaan aangee na die vleuel, Nathan Ockhuizen, wat op senterposisie gestaan het, in die agterlyn uitgegee.

Ockhuizen het die wendrie vir sy span onder die pale gedruk. Die verdoeling van die drie was mis, maar WHS het die wedstryd met 14-12 gewen en Leeba Fouché van Metropolitan die gesogte Metropolitan Raadsbeker aan WHS oorhandig.

More Entries