2008

WHS is ’08 se o.19-kampioen


Wiets Coetzee

WINDHOEK Hoërskool is na ’n naelbytwedstryd teen HTS Saterdag op die Hage Geingob-stadion as die o-19 Metropolitan Superliga-kampioen vir 2008 bekroon.

Dit was ’n eindstryd soos min waarvan die telling te wete 22-19 baie duidelik spreek en WHS vir die tweede agtereenvolgende jaar die houer van dié trofee maak.

HTS se heelagter, Lezahan Alcock, het eerste punte met ’n strafskop aangeteken. WHS se vleuel, Herman Maritz, het sy span se eerste punte met ’n drie aangeteken.

Die twee spanne se voorspelers het harde rugby gespeel met HTS wat goed vertoon het en ’n paar vasskoppe gehaak het.

Daarenteen was WHS se lynstaanwerk uitstekend.

Die skeidsregter mnr. Danie Koen, het gereeld strafskoppe aan WHS toegeken maar hulle kon die skoppe nie in punte omskep nie.

HTS se skrumskakel Uatele Pandeni, het sy span se eerste drie gedruk.

Alcock het die rustydtelling met ʼn strafskop 11-5 in HTS se guns beklink.

Binne die eerste paar minute van die tweede helfte het WHS se skrumskakel Wian Mans, oor die HTS-doellyn geduik. WHS se senter, Hendrik Marx, het die drie verdoel om sy span met 12-11 te laat voorloop.

WHS se voorspelers is vir onkantspel gestraf en Alcock het met sy skopskoen vir HTS met 14-12 laat voorloop. Die WHS-agterspelers het gevaarlike lopies onderneem en HTS is tot in hul kwartgebied teruggedryf.

Die skeidsregter het ’n strafskop aan WHS toegeken en Mans het die bal vinnig gespeel om sy tweede drie te druk. Marx het sekuur geskop en WHS was 19-14 voor. HTS se slot, Hermanus van der Merwe, het met ’n drie die telling 19 elk gemaak.

Die manne het mekaar behoorlik opgedreun vir balbesit. Met slegs ’n paar minute se speeltyd oor het Marx ’n strafskop deur die pale gejaag. WHS was met 22-19 voor.

Met speeltyd bykans verstreke het die skeidsregter vier strafskoppe na mekaar op WHS se vyfmeterlyn aan HTS toegeken.

Die HTS-manne het elke keer probeer dryf met die bal, maar hulle kon net nie oor die doellyn kom nie, want WHS se spelers het verdedig so wat hulle kon.

More Entries