2009

Nog ’n Rugbytitel vir WHS


Boet Matthews

DAAR kan nie baie getwyfel word dat Windhoek Hoërskool steeds die Mekka van Namibiese skolerugby is ná Saterdag se vier oorwinnings in eindstryde van die gesogte Metroplitan Raadsbeker nie.

Vir die twaalfde keer sedert 1990 het die eerstespan met die o.19 Superliga trofee weggestap ná ’n 18-3 sege oor Elnatan van Stampriet.

Die duisende toeskouers wat in die Hage Geingob-stadion was, het waarde vir hul geld gekry en die baie drieë staande toegejuig.

Dit was tipiese skolerugby, waar die bal rondgegooi en met elke geleentheid gehardloop is.

Een span wat die kalklig gesteel het, was WHS se o.15A-span, wat hul teenstanders nog vir die volgende paar jaar kan opkeil. Dié kombinasie het weggestap met die Mooispeelbeker, die trofee vir die beste voorspeler van die dag (Quinton Esterhuizen) asook die algehele beste speler van die Metropolitan eindstryde, die woelige losskakel Ethan Beukes.

Beukes het in die finaal teen HTS 27 punte aangeteken, wat drie drieë ingesluit het. Die eindtelling in die slagting was 57-13 vir afrigter Piet Coetzee se bloutrein. Die trotse breier het Saterdagaand aan Republikein gesê: “Die seuns borrel met rugbytalent. Dit is moeilik om iemand uit te sonder, want hulle speel vir mekaar. Verlede jaar het hulle die o.14A kompetisie gewen en is nou twee seisoene onoorwonne.”

Die trofee vir die beste agterspeler is oorhandig aan SG Dursiwei van Windhoek Gimnasium se o.19 span wat in die plaateindstryd met 28-5 oor HTS geloop het.

Die Superliga-eindstryd was nie so eensydig soos die telling dit laat lyk nie. WHS het die eerste helfte oorheers en 15 punte behaal danksy drieë deur Francois van der Merwe en Dirk Basson. Die skopskoen van Johan Deysel was in die kol met twee strafskoppe en een doelskop.

Vir Elnatan het Marius Adriaanse ’n strafskop na rustyd behaal.

WHS het die druk voluit toegepas in die eerste helfte, maar Elnatan het ná rustyd beter gespeel en kon met ’n bietjie geluk dalk agter die magtige WHS se doellyn gaan kuier het.

Elnatan kan trots wees op hul vertoning as in ag geneem word dat net drie van WHS nog nie die land se junior truie oor hul kop getrek het nie, teenoor Elnatan se enkele Namibiese verteenwoordigers.

Woordvoerders van Metropolitan is in die wolke met die groei van die nasionale kompetisie en is oortuig dat volgende jaar selfs groter gaan wees. Die versekeringsmaatskappy borg die afgelope 17 jaar die kompetisie waar die room van Namibiese skole mekaar die stryd aansê. Daar is gerugte dat Metropolitan in 2010 die eindstryd regstreeks op televisie en radio wil laat uitsaai. Daar is ook moontlikheide dat die prysgeld verhoog sal word.

Skolerugby lok altyd groot getalle toeskouers en die algemene dissipline op en langs die veld is ’n vertoonvenster vir plaaslike rugby.

More Entries