2010

WHS behou die beker

WHS se eerste span het 'n klinkende oorwinning van 35-13 teen Dr. Lemmer behaal nadat die spanne nog diep in die tweede helfte op 13-elk vasgeknoop was. Dit was WHS wat in die laaste kwartier die krane wyd kon oopdraai en drie keer die doellyn oorsteek. Dit het aan hulle vyf drieë besorg met senter Johan Deysel wat die ander punte met skoppe by-gevoeg het.

Dr. Lemmer kan egter hul kop hoog hou, want die seuns het rotsvas verdedig en hul man goed teen die verdedigende kampioen gestaan. Dit was in daai laaste 15 minute waar dinge so ietwat skeef geloop het en WHS met puik hanteerwerk die agterlyn van Dr. Lemmer oopgevlek het.

Lemmer se drie was self ’n bielie. Die haastige vleuel De Selvano Beukes het die stut ’n lopie begin en ’n paar teenstanders spoke laat sien voordat hy vir Jason Swartz weggestuur het om oor te duik. Die dodelike skopper Lou Rickerts het die twee punte bygevoeg om die telling 13-3 te maak.

WHS se puntemakers was die woelige agtsteman Gerhard Lotter wat twee keer gaan druk het, terwyl Louwrens Mynhardt , Denver Murorua en Hennie van der Westhuizen ook agter hul teenstanders se doellyn gaan kuier het.