2011

Blou Maandag na WHS-triomf


Boet Matthews

DIT was 'n eindstryd van vele rekords, selfs vir die verloorspan wat sover bekend die eerste in jare was wat geen punte kon aanteken nie. Die blou masjien van Samsung Windhoek Hoërskool het Saterdag bewys waarom hy vir die vyfde keer op 'n streep met Metropolitan se Raadsbeker weggestap het. Die wegholsege van 64-0 teen Windhoek Gimnasium het gesorg vir 'n Blou Maandag daar oppiekoppie aan Windhoek se suidekant. Die verdedigende kampioenspan was eenvoudig in 'n ander klas en sal selfs in die komende jare moeilik van die titel as konings van Namibiese skolerugby weggehou word, as gekyk word hoeveel van die wenspan nog volgende jaar behoue bly. In WHS se eerste span was glo net vier matrieks en in hul tweede span net drie. Vir een van hulle, die haker Gerhard Lötter, was dit 'n spesiale dag. Hy was verlede jaar ewe prominent as agtsteman in die eindstryd teen Dr. Lemmer en vanjaar kon hy as die kaptein die Metropolitan Raadsbeker omhoog hou. Inderdaad 'n prestasie vir die matrikulant wat benewens Cravenweek-rugby ook reeds sy nasionale kleure in krieket verwerf het. Hy het agterna aan Republikein gesê: "Hier by WHS het ons 'n tradisie wat reeds vir 94 jaar aankom. Ons speel met baie trots in die blou trui van WHS en ons kyk op na ons Hemelse Vader, want dis waar ons hulp vandaan kom. Elkeen wat Saterdag in die eindstryd opgedraf het, en ook diegene wat vorige jare hierdie trui oor hul kop getrek het, weet dit is trotse ervaring om vir WHS uit te draf,"

Lötter het sy klas gewys toe hy vier keer agter Windhoek Gimnasium se doellyn gaan kuier het. Nie sleg vir 'n haker om 20 punte aan te teken nie.

Die seuns van WHS het - inderdaad gedoen wat van hulle verwag is, met geen tierlantyntjies voor of tydens die kragmeting nie. Net die basiese dinge van die spel is met mening uitgevoer. Die gevolg was stewige skrumwerk, volgehoue druk en 'n klomp drieë. Die eerste skoot het reeds na een minuut se spel geklap toe stut GD Orlam oorgeduik het. Denver Murorua se doelskop was suiwer

tussen die pale deur. Die aanhangers van WHS het nog skaars weer hul sit gekry toe

die tweede drie deur Sven Reimers gedruk is. Murorua se skopskoen was vir 'n tweede keer in die kol.

Murorua wys toe hy kan nie net skop nie, toe hy self gaan druk en verdoel vir ’n 21-0 voorsprong. Agtsteman Wian Conradie vryf die sout verder in Gimnasium se wonde met ’n drie, wat dié keernie verdoel word nie.

Kaptein Gerhard Lötter behaal sy eerste drie kort voordat skeidsregter Jacky Husselmann die fluitjie vir rustyd blaas.

Met ’n 31-0 voorsprong begin die twee spanne die tweede helfte. Lötter het sy potensiaal as kaptein en haker onderstreep met nog twee blitsige drieë. Toe kom die drie van die wedstryd deur WHS se vleuel Donovan Kandjii. Met die bal onder die arm het vanuit sy eie helfte weggebreek en verskeie rooi en swart truie geklop voordat hy oorduik vir ’n manjifieke drie wat die vyftigtal op die telbord plaas.

Kort daarna plaas Jaco Venter sy naam op die lys van driedrukkers en Murorua se skopskoen tref sekuur. In die laaste sekondes laat Lötter sy merk met ’n stormlopie wat op sy vierdedrie en WHS se tiende uitloop. Murorua betoon geen genade nie en sy doelskop maak die eindtelling 64-0.

More Entries