2012

Ses uit ses vir WHS


Boet Matthews

Dit was die seuns van Windhoek Hoërskool (WHS) wat Saterdagaand in die o.19 Metropolitan Superliga kompetisie koning gekraai het. Die blou masjien van WHS het die finaal teen sy buurman, Windhoek Gymnasium, met 31-19 gewen en sodoende vir die sesde keer in ’n ry gesorg dat die trofee in sy vertoonkas pronk.

Die “blou” skool het met rustyd 19-0 voorgeloop en dit het gelyk asof ’n slagting weer op pad is. Maar dit het nie gebeur nie, want die “rooi” skool het goed teruggeveg en drie drieë behaal.

Die gaping op die rugbyveld tussen die twee skole is besig om aansienlik te vernou. Selfs in die kamp van WHS is met lof van Windhoek Gymnasium se spel en veggees gepraat.

Jan Dames, afrigter van WHS, het na die wedstryd aan Republikein gesê: “Dit was ’n harde eindstryd wat in goeie sportmangees oor 60 minute plaasgevind het. Dit is goed vir Namibiese rugby as ander skole hul spelpeil verbeter en nader aan WHS beweeg.”

Toe skeidsregter Jacky Husselman die fluitjie blaas vir die afskop, het dit gelyk asof WHS oor hul opponente gaan stoomroller. Na drie minute se spel was die telling 5-0 toe agtsteman Wian Conradie agter die doellyn van Gymnasium gaan kuier het. Chris Arries kon nie slaag met die doelskop nie. Maar die glibberige Arries het na 20 minute se spel gewys hoekom hy ’n toekenning ontvang het as een die voorste losskakels toe hy die opponente die hakskene gewys en ’n briljante drie aantegeken het. Hy het hierdie een verdoel vir ’n 12-0 voorsprong aan die bloues.

Twee minute later was dit Sven Reimers wat die gaping laat rek het met nog ’n drie vir WHS, en Arries wat met die doelskop suksesvol was. Die telling was 19-0 en daar was ’n effense stilte op die pawiljoen, want na twaalf maande en 22 minute kon Gymnasium nog nie daarin slaag om punte in die Superliga-eindstryd teen WHS aan te teken nie. Verlede jaar se finaal was ’n wegholsege van 64-0 in WHS se guns. En toe losskakel PJ Singaram verby die linkerregoppaal skop nadat ’n strafskop aan Gymnasium toegeken is, het dit gelyk asof ’n herhaling van 2011 op pad was. WHS se buitesenter, Elthan Beukes, het soos ’n mes deur Gymnasium se verdediging gesny en die telbord tot 24-0 laat aanstap. Chris Arries se skopskoen was boonop ook in die kol vir ’n voorsprong van 26-0.

Die spreiligte het nog flouer geraak vir Gymnasium toe Sven Reimers sy pad oopvlek om agter Gymnasium se doellyn te gaan kuier, maar die grensregter, Danie Koen, het die vlag omhoog gehou. Hy het aan skeidsregter Husselman verduidelik dat iewers ’n knie in die losgemaal te hoog gelig is, wat een van Gymnasium se spelers in die gesig getref het. Die doel is nie toegeken nie en daar is ’n strafskop is aan Gymnasium toegeken. WHS se GD Orlam het terselfdertyd ook ’n rooi kaart ontvang. Vir die jongman was ’n droom aan skerwe, en dit was ’n nagmerrie soos hy agterna aan Republikein verduidelik het. “Jissie, dit was my 50ste kragmeting in die blou kleure van WHS en die rooi kaart was soos ’n uitklop,” was die graad 12-leerling se opmerking.

Husselman het aan Republikein gesê die rooi kaart was vir vuilspel in die losgemaal. Toe verander die prentjie so ietwat en Gymnasium se Divan Rossouw gaan druk sy span se eerste drie in die 40ste minuut, vier minute nadat Orlam van die veld gestuur is.

Sewe minute later brul die pawiljoen toe Gymnasium sy tweede doel aanteken. Die keer was dit die rats vleuel, Leon Feris, wat teenstanders in sy skaduwee laat hardloop het. PJ Singaram verdoel en die telbord staan op 26-12 vir WHS. Net toe dit lyk asof die rooi skool nog ’n drie gaan aanteken en die wedstryd dalk op ’n spannende noot sou eindig, slaan Charlie Fourie van WHS die finale spyker in Gymnasium se doodkis toe hy deur sy pak voorspelers vir vyf waardevolle punte oorgestoot word.

Die laaste punte van die eindstryd is aangeteken deur Leon Feris wat sy tweede drie vir Gymnasium behaal en sy stempel as een van die jong, belowende vleuels in Namibië afgedruk het. Singaram se skopskoen is in die kol en die telbord staan op 31-19 in die guns van Windhoek Hoërskool.