2013

WHS se blou masjien rol voort


Andrew Poolman

“Rom rom, die Bloues kom! Al wat jy sien, is die blou masjien!”

Met ’n rekordtal van sewe oorwinnings in die Metropolitan Raadsbeker-ligas is enige meningsverskil uit die weg geruim oor wie vanjaar die konings van Namibiese skolerugby is en Samsung Windhoek Hoërskool se wenspanne het gereeld kans gekry om hul spankreet te laat hoor.

WHS se triomf in die onder 19 Superliga het die blou truie se houvas op die trofee vir die sewende agtereenvolgende seisoen voortgesit.

Chevrolet Elnatan van Stampriet se ondersteuners in helder oranje kleure het in stewige getalle die eindstryde in die Hage Geingob-stadion kom bywoon, maar die eindtelling van 40-6 in WHS se guns het beklemtoon dat die skool steeds die standaard stel vir ander om te volg.

Elnatan het ’n dapper vertoning gelewer, maar die kampioene se doeltreffende gebruik van hul kragtige baldraers soos die slotte Mahepisa Tjeriko en Muharua Katjijeko en agtsteman Wian Conradie het die bresse geslaan. Rustyd was die span van die suide nog net met 6-14 agter, maar toe hulle kort daarna beide hul haker Stefano Labuschagné en stut Stefan Botha weens beserings verloor, was dit neusie verby.

Die tydsberekening van WHS se drieë kon ook beswaarlik beter gewees het. Vanaf die heel eerste skrum het senter Zian Miller sy man geklop om ’n drie ná net een minuut vir sy sentermaat Eathan Beukes te skep.

Ná rustyd het WHS opnuut hard geslaan met twee drieë binne die eerste twee minute.

Die speler van die wedstryd was WHS se blink losskakel Chris Arries, wat weer sy opsies uitstekend uitgeoefen het om sy span op die aanval te hou.

Wian Conradie is ná sy twee drieë as die beste voorspeler van die wedstryd asook die algehele beste speler van die dag aangewys. Die reuse-slot Mahepisa Tjeriko het ook twee drieë gedruk en is as die beste voorspeler van die dag bekroon. Arries is as die beste agterspeler van die dag bekroon. Laasgenoemde drie pryse is deur Danie Botes en sy gesin op die spel geplaas met kontantpryse van N$500 elk.

Om sake af te rond, het WHS se eerste span ook die Metropolitan Mooispeelbeker vir die aanskoulikste rugby ontvang.

More Entries