2014

Gimnasium juig oor eerste titel


Andrew Poolman

Die kampioenspan van 2014 het sy skoleseisoen onoorwonne afgesluit.

Met sy jong reus van 'n kaptein, Johan Retief, aan die voorpunt het die eerste rugbyspan van Ricoh Windhoek Gimnasium vir die eerste maal die Momentum Raadsbeker onder 19 Superliga-trofee omhoog gelig om met die eer as die land se beste hoërskolespan van 2014 te mag spog. Gimnasium se oorwinning met 33-8 in die eindstryd teen Chevrolet Elnatan is ná 'n voorsprong van 23-3 met rustyd behaal. Soos die telling aandui, is die besoekers van Stampriet in die mmeste fasette van die spel geboelie. Gimnasium se eerste span het die seisoen onoorwonne afgesluit en het vir die eerste maal rede gehad om fees te vier ná die afgelope seisoene se teleurstellings. Die skool wat in 2000 op die been gebring is, moes onder meer 'n nederlaag van 64-0 in die 201-eindstryd teen WHS asook verlede jaar se uitskakeling in die halfeindstryd teen Elnatan afsluk.

Hierdie keer was daar egter geen sprake dat enigiets die rooi en swart truie van die trofee sou weghou nie. Sommer in die derde minuut het Gimnasium die voortou met 7-0 geneem en nooit weer teruggekyk nie. Die eerste punte het binne die Windhoekers se eie helfte begin toe 'n aangee van Elnatan se losskakel Stiaan van der Merwe onderskep is. Die senter Frederick van Zyl het te veel spoed gehad vir enige van die Elnatan-spelers wat hom gejaag het. Nadat Elnatan die vorige naweek teen Walvisbaai gelyk het asof hulle nie 'n voet verkeerd kan sit nie, het bitter min hierdie keer vir hulle reg geloop.

Die span van die suide het hul hande vol gehad om Gimnasium se sterk agtsteman Johan Retief grond toe te bring. Retief se lopies was feitlik almal identies deurdat hy klokslag bo-oor die eerste verdediger gestorm en dan nog een of twee manne saam gedra het voordat hy gestuit is.

Hierteenoor het Adriaan Booysen, agtsteman en kaptein van vanjaar se o-18 Cravenweekspan, meestal skadeloos op die regtervleuel bly staan. Booysen se skuif na die 14-trui was blykbaar vanweë die feit dat Gimnasium se giftige Milan van Wyk sommer baie aandag kan verg.

Indien Gimnasium se losskakel Henrique Olivier meer gereeld sy skoppe pale toe kon plant, sou die telling selfs groter gegroei het. Olivier het net met twee doelskoppe en twee strafdoele geslaag, voordat regtervleuel Cliven Loubser later oorgeneem en ook 'n strafdoel deur die pale gejaag het.

Benewens Van Zyl se openingsdrie is Gimnasium se ander drieë deur sy sentermaat Brandon Groenewald, die vleuels Milan van Wyk en Cliven Loubser asook Retief gedruk. Elnatan se enigste drie is deur die stut Marius van Niekerk gedruk, terwyl heelagter PW Steenkamp met 'n strafdoel getref het. Hoewel die suideskool weer puik presteer het om met skaars 100 seuns sy tweede eindstryd op 'n streep te haal, sou hul ondersteuners gewis meer kalmte in die terugvegpoging verwag het van hierdie ervare span van wie agt spelers met die spesiale helder oranje sokkies gespeel het wat 50 of meer wedstryde vir die eerste span aandui.

Net soos in die laaste sewe jare, toe Windhoek Hoërskool die kompetisie oorheers het, is dit hierdie keer Gimnasium wat straks die meer realistiese verwagtinge van verdere sukses