2015

Superliga-trofee bly staan by Gimnasium


Andrew Poolman

Die eerste rugbyspan van Windhoek Gimnasium het Vrydagaand 'n hewige stryd oorleef voordat hy sy titel as 0.19 Momentum Superliga-kampioen vir 2015 behou het. Die oorwinning met 22-19 teen Rubicon Tsumeb Gimnasium het vir die Windhoekers onder afrigterskap van Vince Dreyer en Jaco Engels hul tweede titel in twee jaar, en die tweede in die bestaan van die skool verseker.

Vir Tsumeb Gimnasium was die wedstryd ook 'n eerste deurbraak, hoewel kaptein Hans Breedt en sy manne waarskynlik met spyt sal terugdink aan al die kanse wat hulle verspeel het om die doodskoot toe te dien.

Die noorde-span se normaalweg betroubare stelskopper Jan-Harm Cronjé het 16 skoppunte mis gekorrel en het later selfs kanse trefafstand eerder kantlyn toe gemik. Selfs met skeidsregter Oscar Lambert se strafskoptelling gerieflik in die guns van Tsumeb kon die maroen truie nie behoorlik die voordeel trek nie. Verskeie faktore sou verder tot Windhoek Gimnasium se bevrediging uit die triomf bygedra het, soos dat hy in die tweede helfte ’n agterstand uitgewis het, ondanks die verlies van spelers met twee geel kaarte (flank Franco Opperman en agtsteman Amos Loxton) en twee beserings (haker Christo Pienaar en slot Lebeau du Preez)

Rustyd het Windhoek Gimnasium sy neus met 12-6 voor gehad danksy twee drieë, waarvan sy losskakel Clivén Loubser die eerste behaal het. Loubser het nè 12 minute 'n strafskop naby die doellyn vinnig getik en oorgeduik, voordat hy ook die doelskop en twee strafdoele bygevoeg het. Ná sowat 'n halfuur het Gimnasium van 'n lynstaan af eers regs en toe links geslaan waar sy haker Christo Pienaar genoeg vaart gehad het om die hoek te haal.

VEGGEES

Nadat Tsumeb die ligafase van die seisoen in die vyfde plek geëindig het, het die span sy besondere veggees gewys deur eers Samsung Windhoek Hoërskool (vierde) en toe Burgers Walvisbaai (eerste) uit te skakel en sy eerste Superliga-finaal te haal.

Juis hierdie veggees het byna oombliklik na rustyd weer sy kop uitgesteek toe Tsumeb eers 'n strafdoel en toe 'n briljante drie vir sy heelagter Edgar Beuthin bewerkstellig het. 'n Binne-aangee van 'n beplande beweging het Beuthin op 'n lopie van 40 meter gestuur om met genoeg vaart te kon deursny om die enkele verdediger in sy pad hulpeloos te laat. Tsumeb se voorsprong van 14-12 het 19-12 geword toe die bedrywige haker Jacques (Koper) Grobler in die regter-hoek oorgewurm het ná 'n paar fases deur die voorspelers. 'n Strafdoe1 deur die talentvolle Loubser het die agterstand laat krimp, voordat Gimnasium in die laaste minute sy voorspelers gebruik het om 'n verdoelde drie vir die reserweflank Peter Diergaardt as die wenpunte te skep.

Die wenspan se senter Brandon Groenewald is as die speler van die wedstryd aangewys. "Baie geluk aan Windhoek Gimnasium wat waardige wenners was. Vir Tsumeb se seuns, ouers en ondersteuners haal ek my hoed af vir hul veggees en deursettingsvermoë toe ons drie naweke op 'n streep in Windhoek moes kom speel. Met 171 hoër-skoolleerlinge wys ons tweede plekke in die Superliga-rugby en -netbal dat ons leuse nie verniet is nie: `Size' tel nie, net `guts'!" het die noorde-span se afrigter Wouter Niehaus gesê.

Hierteenoor sal sy eweknie Vince Dreyer nou waarskynlik selfs meer moed vir 2016 hê, omdat net vyf matriekseuns uit sy eerste span verlore gaan, naamlik die skakelpaar Loubser en Jerome Beukes, stutte Jacques Adelaar en Arno von Wielligh en agterspeler Moranzel Strauss.