2018

Een punt genoeg vir Affies se eerste Super-triomf


Andrew Poolman

Dit was 'n bitter belangrike deurbraak vir ons skool, het afrigter Johan Zaayman gesê nadat sy KMC/JCC Windhoek Afrikaanse Privaatskool op dramatiese wyse die Momentum o.19 Superliga-eindstryd vir die eerste keer in sy geskiedenis teen die titel-houer, Schoemans-groep Windhoek Gimnasium, beklink het.

Affies het vir die ganse wedstryd agtergeloop totdat hy in die laaste minuut 'n verdoelde drie deur die stut Jurgen-Leigh Human kon behaal om met 26-25 te wen. Daar was nog tyd vir een afskop, maar Affies se voorspelers het die bal beskerm totdat die finale toeter geblaas het, waarna hul reserwehaker Lucas Maree die bal oor die kantlyn gesool het, as ʼn uitnodiging vir die ganse skool om op die veld te storm en mekaar in emosionele omhelsings vas te gryp. Windhoek Gimnasium se bulstut Ethan Thiart het die enigste drie van die eerste helfte ná agt minute gedruk, toe skrumskakel Archie Norval hom na een losskrum weggestuur het met sy gewig en momentum onstuitbaar so naby die doellyn.

Tesame met heelagter Wiks Tromp se twee strafdoele en doelskop het Gimnasium rustyd met 13-9 voorgeloop nadat Windhoek Affies se los-skakel Johan Zaayman hulle met drie strafdoele binne trefafstand gehou het. Zaayman het sake na rustyd met 'n skepdoel aan die gang gesit, maar Gimnasium het voortgebou met 'n drie deur sy regtervleuel Lyle Beukes, gevolg deur Ethan Thiart se tweede, soortgelyke storm-drie om met 25-12 beheer te neem. Vleuel Louis Karsten se tweede drie in twee naweke het Windhoek Affies se laat terugvegpoging begin, maar 'n keer-punt was toe Thiart en Lyle Beukes, die driedrukkers, kort na mekaar met geel kaarte afgestuur is (58ste en 65ste minute). Die Gimnasium Leeus se ondersteuners was agterna erg ontsteld oor dié en ander beslissings van skeidsregter Stephan Kellermann, veral na die teleurstelling van Affies se laat wendrie.

More Entries