Agra Speenkalfreeks ploeg N$70 m. terug in landbou

N$2 000 meer vir speenkalf
Jacques du Toit
Ten spyte van aansienlik minder diere en ook kopers wat onttrek het, kon die Agra Speenkalfkampioenskap steeds ’n merkwaardige N$70 miljoen genereer en terug in die landbougemeenskap ploeg.

Paul Klein, die uitvoerende bestuurder van Agra Veilings, het tydens die toekenningsgeleentheid op 30 Oktober gesê die kompetisie vier nie net die topgehalte van kalwers op Namibiese plase nie, maar beklemtoon ook die positiewe impak wat die produsente op hul gemeenskappe het.

“Die boere wat deelneem, is mense wat werklik ’n impak in hul omgewing maak, en dit op sigself is ongelooflik belangrik,” sê hy.

Klein het erken dat die begin van die jaar met onsekerheid gepaard gegaan het weens ’n laat reënseisoen.

“Ons was almal bekommerd. Die kort maar goeie reën in Maart het egter die seisoen regtig aan die gang gesit,” het hy gesê.

Die goeie weiding het direk bygedra tot ’n toename in die gewig van kalwers,wat positiewe uitwerkings op die veilings gehad het.

Klein het spesifiek die plaaslike kopers geprys vir hul volgehoue betrokkenheid en ondersteuning van die veilings, wat gelei het tot ’n stabiele prys dwarsdeur die reeks.

“Dit was nooit dat een veiling op en ’n ander een af was nie – die pryse was baie konsekwent,” sê hy.



SYFERS VAN DIE 2025-REEKS

Die 2025-reeks het sowat 9 300 kalwers ingesluit, met ’n gemiddelde gewig van 210 kg, teenoor 11 500 kalwers en 196 kg in 2024. Die gemiddelde kopprys het van N$5 700 in 2024 gestyg tot N$7 400 in 2025, ’n toename van sowat 29,5%. Dit het gelei tot ’n totale uitbetaling van ongeveer N$70 miljoen aan produsente.

Die veilings is by 14 kommersiële en twee kommunale liggings aangebied en was in drie streke verdeel.

Die sentrale streek het 3 300 kalwers met ’n gemiddelde gewig van 210 kg teen ’n gemiddelde prys van N$7 580 per kop verkoop. Die Noorde het 3 270 kalwers met ’n gemiddelde gewig van 203 kg teen ’n gemiddelde prys van N$7 250 verkoop en die Suide het 2 061 kalwers met ’n gemiddelde gewig van 230 kg teen ’n gemiddelde prys van N$7 596 verkoop.

“So, as jy op soek is na swaar kalwers, ry Suide toe,” sê Klein.



MARKVEREISTES

Klein het beklemtoon die kalwers was van topgehalte en dat die kompetisie tussen die deelnemers sterk was met slegs ’n paar punte wat hulle geskei het.

Vir hom dra die kompetisie by tot ’n groeiende bewustheid onder produsente van markvereistes, insluitend die tipe beeste wat geskik is vir uitvoer en die noodsaaklikheid van goed gekastreerde en goed voorbereide kalwers.

Klein het aangekondig dat veldpotensiaalkalwers wat nie gekastreer is nie, vanaf 2026 gepenaliseer sal word om beter aan markvereistes vir uitvoer te voldoen. Hy beklemtoon dat veranderende markvoorkeure ’n belangrike aspek is wat produsente moet takel om suksesvol te wees.

“Ons moet kyk na wat die mark werklik soek. Ons beweeg in ’n nisuitvoermark waar ons ’n goeie produk op die tafel moet sit, en ek dink dit word noodsaaklik dat die persoon wat die kalf tot by die slagplek bring, ’n dier moet lewer wat aan al die vereistes voldoen,” sê Klein.

Om die reeks op te som sê Klein: “Goeie kwaliteit, stabiliteit en ’n positiewe atmosfeer het hierdie reeks besonders gemaak.”

Klein het ook die produsente en borge bedank vir hul bydrae tot ’n suksesvolle 2025-speenkalfseisoen.