Braunviehkoei Marzi Kampioen van Kampioene by Windhoek Skou

Jacques du Toit
Die Windhoek Skou se hoogste eerbewys, Kampioen van Kampioene, is vanjaar aan die braunviehkoei, Marzi, uit Henriëtte Le Grange se Aurora Braunvieh-stoet naby Summerdown toegeken.

Marzi het teen die simbrabul, Kellogs, van Hardus Breedt se Rumba Simbra-stoet op Grootfontein meegeding wat as die senior, ras- en interraskampioen aangewys is.

“Dis regtig lekker om elke jaar hier saam met die boere te kuier en ons genetika teen ander braunviehtelers se genetika te toets. Dis eintlik die enigste manier om te weet of jy op die regte pad is of nie,” sê Le Grange.

Marzi, wat reeds as junior én raskampioen uitgeblink het, dra ’n besonder sterk moederlyn. Volgens Le Grange was haar ma vir baie jare die braunvieh-raskampioen en het sy uitstaande eienskappe, veral haar uierkwaliteit, aan haar nageslag oorgedra.

“Marzi het ook ’n buitengewone melkproduksie – haar melksyfer is tien, waar die rasgemiddeld op drie staan,” verduidelik sy.

Le Grange sê hulle sal sorg dat Marzi se genetika behoue bly: “Ons gaan vir Marzi mooi oppas, want haar ma is nie meer in die kudde nie. Dis belangrik om daardie genetika vir die toekoms vas te lê.”