Regverdige beoordeling beloof vir 2025 se Agra-speenkalfkampioenskap

Bank Windhoek loof reeks se bydrae tot nasionale kudde
Koei- en kalfboere bly noodsaaklik vir die standvastigheid van Namibië se vleisbeeswaardeketting en verdien sterk ondersteuning.
Die beoordelingsproses tydens die 14de

Agra-speenkalfkampioenskapreeks sal regverdig en konsekwent wees.

Só het Paul Klein, die uitvoerende bestuurder van veilings by Agra, verseker en genoem dat ’n permanente span oraloor die land ingespan gaan word om standaarde te handhaaf en die risiko van bevooroordeelde beoordeling uit te skakel.

“Ons probeer sover as moontlik om met ’n konsekwente span landswyd te werk en hier bedank ons Voermeester se span wat hulle beskikbaar gestel het om deurlopend saam te werk en al die veilings by te woon om met die beoordeling te help,” het Klein tydens die bekendstelling van die reeks by die Windhoek Skougronde gesê.



AGRA POSITIEF VIR N$85 MILJOEN

In 2024 is sowat 11 500 kalwers verkoop teen ’n gemiddelde prys van N$6 200 vir tollies en N$5 100 vir verse vir ’n totale uitbetaling van ongeveer N$67 miljoen.

Klein is wel van mening dat weens die positiewe gemoedstoestand wat nasionaal heers danksy goeie reënval, verbeterde weidingstoestande en sterker kalwerpryse (25-30% hoër as 2024), is ’n teiken van N$85 miljoen realisties.

“Die ouens praat nie meer van droogte en voer aanry nie. Die feit dat daar weer vir ons hoop is, die feit dat daar weer vir ons ’n ligpunt is, voorspel dat ons weer eens ’n baie suksesvolle reeks gaan hê. In die proses skep ons welvaart daar buite,” sê Klein.



BOERE SE VOLHARDING

Klein verduidelik dat die speenkalfreeks daarop gemik is om die boer te beloon wat die toewyding, moeite en opofferings maak om 'n speenkalf te produseer.

“Met die reeks wil ons erkenning gee aan die ou wat vasberadenheid getoon het, die boer wat die vermoë het om op te staan ná ’n jaar soos verlede jaar,” sê hy.

Hy beklemtoon dat elke boer die volgende twee lesse ter harte moet neem.

“Eerstens, moet ’n boer ’n bitter, bitter kort geheue hê en tweedens, dat volgende jaar die beste boerderyjaar gaan wees wat jy nog gehad het.”



KOEI- EN KALFPRODUSENTE

Volgens Klein is een van die belangrikste aspekte wat tans aandag verdien, die beskerming van koei- en kalfboere – veral binne die konteks van die veranderende vleisbeesmark.

Hy sê die gevolge van droogtesiklusse lei daartoe dat primêre speenkalfprodusente neig om weg te beweeg van ’n koei- en kalfproduksiestelsel om risiko’s te beperk.

“Dit plaas wel die hele vleisbees-waardeketting onder druk omdat Namibië besig is om meer slagkapasiteit te skep. Daar bestaan ’n definitiewe behoefte vir die produksie van kalwers om die langtermyn-volhoubaarheid van die slagmark te ondersteun.”

Klein meen verder dat speenkalfprodusente hulself en hul produksie moet aanpas volgens die veranderende mark se behoeftes, insluitend die tipe kalf wat geproduseer word. “Speenkalfproduksie moet onder meer daarop gerig wees om die plaaslike mark vir uitvoer-abattoirs optimaal te bedien met ’n produk wat op die internasionale mark kan meeding,” se hy.

Alhoewel die Suid-Afrikaanse mark steeds belangrik bly, glo hy daar is ruimte vir groter fokus op kalwers vir uitgroei-doeleindes in Namibië.

Vir hom lê die kern van die uitdaging in die komende jare juis daarin om die koei- en kalfboere in die stelsel te behou en die speenkalfbedryf deurlopend te ondersteun.



GROEI IN BORGSKAP EN DEELNAME

Die Agra-speenkalfreeks het oor die jare gegroei in sowel omvang asook ondersteuning.

Die betrokkenheid van nuwe borge en die toename in die aantal kalwers wat aangebied word, getuig van die reeks se sukses en belangrikheid.

“Ons hoop dat hierdie reeks mense inspireer en motiveer, en dat ons op hierdie manier die veerkragtigheid van die landbougemeenskap kan beloon,” sê Klein.



LANDBOU: NAMIBIë SE TOEKOMS

“Landbou bly vir ons almal belangrik en dit is hoekom ons hier is. Geen land het al ooit die verskuiwing van ’n ontwikkelende land na ’n ontwikkelde land gemaak, sonder om landbou te ontwikkel en binne ’n streek te vestig nie.

“Dit is hoekom ons as Agra belê en besigheid in landbou doen, want ons glo dat landbou die sleutel vir die toekoms van Namibië is,” het die uitvoerende hoof van Agra, Arnold Klein, in sy toespraak gesê.



BANK WINDHOEK BEDANK

Bank Windhoek se uitvoerende beampte van bemarking en korporatiewe kommunikasiedienste, Jacquiline Pack, sê hulle is 'n trotse ondersteuner van die Agra-speenkalfkampioenskapreeks vir die afgelope 15 jaar sedert 2009.

“Hierdie kompetisie gaan nie net oor pryse wen nie – dit gaan oor die maatstaf van gehalte, die tentoonstelling van jou harde werk en die verbetering van die nasionale kudde,” het Pack gesê.

Sy het vir Agra uitgesonder as ’n uitnemende voorbeeld van hoe die private sektor nasionale pogings kan ondersteun deur platforms soos die speenkalfreeks te skep.

“Die private sektor bring ratsheid, doeltreffendheid en ’n resultaatgedrewe ingesteldheid na landbou. Wanneer dit in lyn is met die behoeftes van die regering en boere, word dit ’n kragtige enjin vir transformasie en inklusiewe groei,” sê sy.

– jacques@nmh-hub.com.na