Steynberg as 2025 NLU Mediapersoonlikheid aangewys
Die Namibië Landbou-unie (NLU) het AgriMonitor en Republikein se joernalis, Francoise Steynberg, as die 2025 Mediapersoonlikheid van die Jaar aangewys. Die toekenning, geborg deur Agra, gaan met ’n prys van N$10 000 gepaard.Volgens die voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie, Jako van Wyk, is Steynberg “’n gerekende joernalis, altyd gemoeid om alle kante van ’n saak te ondersoek, en haar professionele optrede en skryfwerk strek oor alle aspekte van landbou. Ons bedank haar vir haar passie vir landbou en ons land se boere en natuurliefhebbers. Voorwaar ’n waardige wenner - baie geluk.”
Steynberg se loopbaan strek oor meer as drie dekades en word gekenmerk deur ’n sterk vermoë om met uiteenlopende gemeenskappe te kommunikeer. Haar internasionale ervaring en veeltaligheid, insluitend die vermoë om in Mandaryns te kommunikeer na haar jare as onderwyseres in Taiwan – dra by tot haar insig en sensitiwiteit in verslaggewing.
Sy dek ’n wye spektrum van onderwerpe, van watersekerheid en volhoubare boerdery tot plaasveiligheid, wildbewaring en toerisme. Haar ondersoekende styl, betroubare bronne en visuele bydraes soos foto’s en illustrasies maak haar werk toeganklik en invloedryk binne die landboumedia.
Met ’n akademiese agtergrond in politieke wetenskap en ’n loopbaan wat reeds op 22-jarige ouderdom begin het, het Steynberg haar posisie gevestig as een van Namibië se mees gerespekteerde landboujoernaliste. Haar werk staan uit vir konsekwentheid, objektiwiteit en feitelike korrektheid, en verskyn gereeld op prominente mediaplatforms in die land.
Comments
My Zone
No comments have been left on this article