Windhoek Skou stel vanjaar nuwe formaat vir lewende hawe bekend

Lewendehawe- en nywerheidsafdelings vind gelyktydig plaas
Jacques du Toit
Die Windhoek Skou gaan vanjaar ’n nuwe formaat bekendstel om die program meer kompak en besoekersvriendelik te maak.

Volgens Hendrik Kruger, die lewendehawe-koördineerder van die Windhoek Skouvereniging, is die skou nou tot vyf dae verkort, van Dinsdag 30 September tot Saterdag 4 Oktober, en sal die lewendehawe- en nywerheidsafdelings gelyktydig plaasvind. Die doel is om die ervaring vir besoekers te verbeter en te verseker dat daar deurlopend diere op die terrein is.

Die kleinvee-afdeling begin reeds eerskomende Maandag met verifikasies en slaglammers. Dinsdag en Woensdag volg die beoordeling in die beesarena se ring 3.

Die interras-keuring vind Donderdag plaas en Vrydagoggend word sowat 36 kleinvee in die Agra Bank Windhoek-veilingsring opgeveil. In totaal neem 343 kleinvee deel, insluitend boerbokke, Kalahari Reds, dorpers, damaras en Van Rooys.

Die grootveeprogram sluit 341 diere in, waarvan 29 slagosse op Rehoboth geslag sal word. Hierdie diere word eers op die hoef beoordeel en daarna by die abattoir geslag, waarna die kampioene aangewys word.

Die beoordeling van die slagosse begin Woensdag, gevolg deur die Brahmane en ander rasse soos bruin Switser, dexter, boran, charolais, limousin, afrikaner en angus. Die beoordelaar PJ Budler van Texas is weer terug as beoordelaar. Vrydag word die simbras en simmentalers beoordeel.

Saterdag begin die program met die kindertoulei-kompetisie vir jong deelnemers, gevolg deur die interras-keuring. Die hoogtepunt is die parade en prysuitdeling om 16:30, waar kampioenbulle, -koeie en -slagosse aangekondig word. Die Britse hoë kommissaris in Namibië, Neil Bradley, oorhandig ook die Queen Elizabeth II-beker vir die vrugbaarste koei.

Die nuwe formaat waar die lewendehaweskou tydens die kommersiële gedeelte van die skou gehou word, word vanjaar as ’n proeflopie beskou. Kruger meen egter dit gee al die skougangers die geleentheid om die hele week die diere te besigtig.