Basta met rassisme
Voorvalle van beweerde rassisme by die Deutsche Höhere Privatschule (DHPS) en Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) het kommer oor leerders se waardigheid en die hantering van diskriminasie laat ontstaan. Die ministerie van onderwys het met albei skole in gesprek getree en gewaarsku dat versuim om die probleme aan te spreek, tot deregistrasie of selfs sluiting kan lei.
Die minister van onderwys, Sanet Steenkamp, het gesê rassisme, rassehaat en diskriminasie het geen plek in Namibië se onderwysstelsel nie. Sy het beklemtoon dat privaatskole, net soos openbare skole, aan die land se onderwyswetgewing moet voldoen.
In haar reaksie op parlementêre vrae van die NDP-parlementslid Martin Lukato, het Steenkamp gesê die ministerie het direk met albei skole geskakel. Die adjunkminister en ander amptenare het ook vergaderings met die betrokke leerders, ouers en skoolbestuur gehou.
Die skole het die voorvalle deur hul onderskeie dissiplinêre prosesse hanteer. Regstellende stappe het onder meer berading, herstellende maatreëls en die versterking van interne meganismes om rassediskriminasie en haatspraak te voorkom, ingesluit.
Albei skole het verslae ingedien waarin hulle die voorvalle veroordeel. DHPS het ook aangedui dat hy sy raamwerk vir diversiteitsopvoeding wil hersien en opvoedkundige programme oor Namibië se rassegeskiedenis, diskriminasie en die voorkoming van haatspraak wil uitbrei.
Steenkamp het egter gewaarsku dat verskonings en beloftes van verbetering deur konkrete optrede opgevolg moet word. “Uitdrukkings van spyt en verbintenisse tot verbetering moet met meetbare optrede gepaardgaan,” het sy gesê.
Die ministerie sal voortgaan om die uitvoering van regstellende maatreëls te monitor en enige verdere bewyse van nie-nakoming te ondersoek.
Kragtens Artikel 79 van die Wet op Basiese Onderwys van 2020 kan die minister ’n privaatskool deregistreer indien omstandighede ontstaan wat die weiering van registrasie sou regverdig. Die eienaar van die skool moet egter eers skriftelik in kennis gestel word en 30 dae gegun word om vertoë te rig voordat ’n besluit geneem word.
Artikel 80 maak ook voorsiening vir die sluiting van ’n skool indien inspeksies toon dat registrasievoorwaardes nie nagekom word nie, of dat die skool se bestuur die welsyn van leerders, openbare vrede of goeie orde benadeel. Die skool moet eers van die tekortkominge in kennis gestel word en kan tot ses maande kry om dit reg te stel.
“Die ministerie sal nie huiwer om die bevoegdhede wat aan my amp verleen is, uit te oefen waar die regsgronde vir sodanige optrede vasgestel is nie,” het Steenkamp gesê.
Sy het beklemtoon dat die skole se voortgesette registrasie nie as goedkeuring van die beweerde gedrag of as beskerming teen regstappe beskou moet word nie. “Geen skool, hetsy openbaar of privaat, is bo die wet nie,” het sy gesê.



Comments
My Zone
No comments have been left on this article