Capricorn-stigting belê N$160 000 in kombuise
Die Capricorn-stigting het N$160 000 bygedra tot die opknapping van al vier kombuise by Hope Village, ’n nie-winsgewende kinderhuis in Katutura.
Die opknapping, wat op 17 November 2026 onder die stigting se fokusarea vir kwesbaarheid aangekondig is, sal die daaglikse voorbereiding van etes vergemaklik en die lewensomstandighede van kwesbare kinders in die instelling se sorg verbeter.
Hope Village, wat in 2004 gestig is, bied gesinsgebaseerde sorg aan weeskinders, verlate kinders en ander kwesbare kinders, insluitend dié wat deur maatskaplike werkers van die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn verwys word. Benewens skuiling en voeding, bied die organisasie ook gesondheidsorg en opvoedkundige ondersteuning om die kinders op volwassenheid voor te berei.
Die kinders woon in vier huise wat volgens ouderdom en geslag ingedeel is: die Babahuis, Kleuterhuis, Meisieshuis en Seunshuis.
Die opknappingsprojek het verslete kaste en werkoppervlakke in al vier huise vervang. Dit het skoon, higiëniese en funksionele ruimtes geskep waar versorgers daaglikse maaltye kan voorberei en ouer kinders belangrike kook- en huishoudelike vaardighede kan aanleer.
Marlize Horn van die Capricorn-stigting het die langtermynwaarde van praktiese verbeterings beklemtoon. “By die Capricorn-stigting glo ons dat betekenisvolle ondersteuning dikwels lê in die alledaagse dinge wat ’n werklike verskil maak. Hierdie belegging bou voort op die ongeveer N$187 000 wat ons in die 2024-boekjaar tot die Babahuis bygedra het. Dit bring ons totale ondersteuning aan Hope Village se huise op ongeveer N$347 000 te staan. Dit weerspieël ons voortgesette verbintenis tot Hope Village en die belangrike werk wat die organisasie vir die kinders in sy sorg doen,” het Horn gesê.
Vir Hope Village het die opknapping ’n nuwe gevoel van waardigheid aan daaglikse roetines gegee. Bedryfsbestuurder Sophy Mouton het haar waardering uitgespreek. “Ons is baie dankbaar teenoor die Capricorn-stigting vir hul voortgesette vennootskap. ’n Kombuis is die hart van enige huis, en hierdie opknappings het die daaglikse lewe in al vier ons huise verander. Ons versorgers het nou skoon, veilige en funksionele ruimtes om voedsame maaltye voor te berei, terwyl ons ouer kinders ’n waardige omgewing het waarin hulle kook- en selfstandigheidsvaardighede kan aanleer.
“Ná die stigting se ondersteuning aan ons Babahuis in 2024, toon hierdie belegging hul opregte toewyding om ons kinders te help om te floreer,” het Mouton gesê.



Comments
My Zone
No comments have been left on this article