Curro Windhoek Gymnasium vier fees!

Rozanne Swart

Die opwindende Gymnasium Kultuurfees vind vanjaar op 19 September plaas en beloof om ’n onvergeetlike viering van jeugtalent en kreatiwiteit te wees. Hierdie besondere geleentheid bring die beste kultuuritems van al vier die Namibia Gymnasium-skole byeen: Windhoek, Roots, Walvisbaai en Oshana.

Die program is propvol uitstaande optredes deur die topleerlinge van al vier skole. Besoekers kan uitsien na optredes deur die skole se spogkore, asook ’n wye verskeidenheid dans-, sang- en instrumentale items. Daar sal ook indrukwekkende monoloë en dramagroepe op die verhoog wees. Die hoogtepunt van die aand is ’n massakooroptrede wat die gehoor beslis sal meevoer.

Kultuurfeeste soos hierdie speel ’n belangrike rol in die ontwikkeling van skoolkinders.

Colette Rieckert, besturende direkteur van Curro Namibië, het verduidelik waarom die kultuurfees belangrik is vir die leerlinge: “Dit gee ’n geleentheid vir leerlinge wat hard werk aan hul kultuurbedrywighede om hulle talent vir die Gymnasium-familie te wys, asook vir enige lede van die publiek wat kultuur uit die boonste rakke geniet.”

Met hierdie kultuurfees hoop Curro Windhoek Gymnasium om ’n leemte in Namibië te vul, waar geleenthede om hoëgehalte-kultuur te beleef dikwels skaars is.

Rieckert het verder gesê: “Ek dink in Namibië is daar nie genoeg geleenthede om hoëgehalte-kultuur te sien en te beleef nie. Ons hoop dat hierdie geleenthede meer leerlinge aanmoedig om aan kultuuraktiwiteite deel te neem en om moontlike verskuilde talente te ontdek.”

Ná die sukses van die eerste fees twee jaar gelede in Walvisbaai en die daaropvolgende een by Oshana Gymnasium, bring die geleentheid die Gimmie-familie weer bymekaar om hul kinders se talente te waardeer.