Gee jou woorde vlerke!

Nasionale Waltons-Griffelkompetisie
Skryf nou jou stories, idees en verbeelding op papier neer!
Yandi du Plessis

Jong skrywers van graad 5 tot 12 word weer genooi om hul stories, idees en verbeelding op papier neer te lê met die Nasionale Waltons-Griffelkompetisie.

Dié kompetisie, wat reeds sedert 2007 aangebied word, gee jaarliks aan leerders die kans om hul skryftalent te ontwikkel en hul unieke stem met ander te deel.

Die kompetisie is oop vir alle leerders binne hierdie ouderdomsgroep, en deelnemers word aangemoedig om hul kreatiwiteit vrye teuels te gee. Of jy nou daarvan hou om stories te skryf, met woorde te eksperimenteer of bloot jou verbeelding wil laat leef, bied Griffel die ideale platform om jou skryfpassie uit te leef.

“Om te skryf is om te leef, en Griffel is die ideale geleentheid om jou verbeelding los te laat en met jou woorde te woeker, sê Paighton Syster, ’n leerder van Windhoek Afrikaanse Privaatskool, wat opgewonde is oor die kompetisie.

"Dit is ’n oneindige reis tussen fiksie en realiteit. Dit is ’n geleentheid om van jou alledaagse probleme te ontsnap en jouself gelukkig te maak deur jou gedagtes te laat vloei. Om te Griffel is om te geniet. Dit is jou kans om jou storie deur jou pen tot lewe te bring.”

Leerders mag meer as een inskrywing indien, aangesien daar geen beperking op die aantal inskrywings per deelnemer is nie. Elke deelnemer kan egter net een prys per afdeling wen. Die pryse is beslis die moeite werd: N$1 500 vir eerste plek, N$1 000 vir tweede plek en N$750 vir derde plek.

Alle inskrywings moet teen 24 Julie 2026 ingedien word. Die name van die wenners en hul skole sal ná afloop van die kompetisie ook op sosiale media bekendgemaak word.

Vir enige verdere navrae kan u gerus ’n e-pos stuur aan Lynélle van Wyk by lynelle@wap.edu.na.