Gobabis bars binnekort uit sy nate

Rozanne Swart

Die spanning en opwinding in die Kalahari-hoofstad bou vinnig op!

Van 26 tot 29 Augustus word Gobabis die Afrikaanse kulturele en kriekethartklop van Namibië wanneer die NAPSO Nictus Holdings Kuns- en Kultuurfees en die Spar/Build-It NAPSO-krieketfees plaasvind. Hierdie spoggeleentheid word vanjaar met trots deur Gobabis Gymnasium aangebied en beloof om feesgangers van heinde en verre te betower.

Die fees is ’n viering van die skeppende gees en bied ’n platform vir ’n wye verskeidenheid kunsvorme. Van meesleurende toneelspel, voordragte en koorsang tot betowerende musiekoptredes, dans en visuele kuns – die verhoog is gereed om Namibië se mees talentvolle leerders en kunstenaars te laat skitter.

Johan-Andre Fourie, uitvoerende hoof van NAPSO, het opgemerk dat die fees ’n platform skep waar leerders hulle talente en gawes kan ontwikkel en uitleef. “Ons wil hê dat elke kind die geleentheid moet kry om sy of haar unieke gawes te ontdek, te ontwikkel en met trots aan ander te vertoon. Die fees gaan egter oor veel meer as net prestasie – dit gaan oor die viering van taal, kultuur, kreatiwiteit en die besondere talente binne ons privaatskole.”

Maar die opwinding eindig nie by die verhoog nie! Vir die sportliefhebbers is daar ook groot rede tot feesviering. Die jaarlikse Spar/Build-It NAPSO-krieketfees vind ook in dieselfde tydperk plaas.

Die proewe vir die NAPSO-krieketspanne, wat na Suid-Afrika sal toer, vind op Woensdag 26 Augustus plaas. Van 27 tot 29 Augustus sal T10- en T15-vriendskaplike wedstryde gespeel word.

Die week gaan oor meer as net kuns en krieket. Daar sal ook ’n skryfskool, aangebied deur die ATKV, plaasvind, met Tanja Franzen en Luandri Reynders as aanbieders. Daar sal ook ’n Mnr en Mej. NAPSO-kompetisie wees. Vir diegene wat wil opdollie en mooi aantrek, is daar die gala-aand, waar van die beste kunstenaars sal optree.

Marlene Peens, die organiserende onderwyser by Gobabis Gymnasium, verseker almal dat daar iets vir elkeen sal wees.

“Daar sal baie aksiebelaaide krieket, lekker toneelstukke, kooroptredes en verskeie gedigte in alle klasse wees. Enigeen kan kom sit en daarna kyk. Hier gaan verskeie stalletjies wees waar mense ’n paar goedjies kan kom koop, asook ’n lekker teetuin waar mense kan kom sit en ietsie drink.”

Sy het ook verseker dat veiligheid gedurende die fees ’n prioriteit is en dat sekuriteit aangestel is om die geslote parkeerareas regdeur die fees te bewaak. Sy het egter ook benadruk dat Gobabis ’n veilige dorp is en dat die gemeenskap na mekaar omsien.

Gobabis Gymnasium nooi die hele gemeenskap, ouers, ondersteuners en kunsteliefhebbers van oor die hele land uit om die pad ooswaarts te vat en hierdie uitsonderlike fees saam te kom beleef.

Maak gereed vir vier dae van onvergeetlike talent, gesonde kompetisie en uitstaande gasvryheid!