Hoofseun en Hoofmeisie

Denése Tromp & Wilhelm Pieterse

Denése Tromp (hoofmeisie)

Om hoofmeisie te wees, leer my elke dag dat leierskap nie net ’n titel is nie, maar eerder ’n geleentheid om ander te dien, verantwoordelikheid te neem en respek vir mense te toon. Die beste deel van hierdie ervaring is die geleenthede wat geskep word om saam met my medeleerders en die personeel van W.A.P. te werk en deel te wees van ’n skoolfamilie wat groter as ekself is.

Een van die grootste voorregte daarvan om hoofmeisie te wees, is die mense wat ek langs die pad leer ken het. Ek besef al hoe meer dat klein dade van vriendelikheid, ondersteuning en respek ’n groot verskil in iemand se dag kan maak.

Dit is vir my besonders om deel te wees van Windhoek Afrikaanse Privaatskool – ’n plek waar daar soveel talent, trots en gees is.


Wilhelm Pieterse (hoofseun)

Ons is reeds halfpad deur die jaar. Jy het moontlik aan die begin van die jaar doelwitte gestel. Indien nie, raai ek jou aan om ’n paar te stel. Stephen R. Covey beskryf gewoonte twee in sy boek The 7 Habits of Highly Effective People soos volg: “Begin with the end in mind.”

Hierdie stelling beklemtoon die belangrikheid daarvan om doelwitte te stel. Hoe gaan jy weet waarheen jy op pad is as jy nie eens weet waar jy wil uitkom nie?

Dit verg tyd om SMART-doelwitte (specific, measurable, achievable, relevant en time-bound) te stel, asook eerlikheid om te erken hoe naby jy daaraan is om jou doelwitte te bereik.

In hierdie tyd van die jaar is dit noodsaaklik om die einddoel in sig te hou. Wanneer jy begin uitbrand, laat dit jou dryf; wanneer jy moeg word, laat dit jou aanspoor; en wanneer jy gefrustreerd raak, raak rustig en fokus weer op die wenpaal.

Laat jou bemoedig deur Filippense 4:13: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”

Ek laat jou met hierdie vraag: Jaag jy steeds jou drome na?