Jeugberaad brei fokus na die res van Afrika uit
Die Youth in Oil & Gas Summit (YIOGS), wat in 2024 in Walvisbaai gestig is, het amptelik sy naam verander na die African Youth in Oil & Gas Summit (AYIOGS). Die verandering dui op ’n nuwe fase waarin die inisiatief jongmense se deelname aan die olie- en gasbedryf verder as Namibië se grense wil uitbrei.
Die nuwe naam, saam met ’n bygewerkte logo en korporatiewe identiteit, kom in aanloop tot die vierde beraad in 2027. Hoewel die fokus nou op die breër Afrika-mark val, bly Walvisbaai die tuiste van die beraad, wat deur sy stigter en sameroeper, Justina Erastus, begin is.
Die beraad is aanvanklik gestig om jong Namibiërs te help om die land se ontwikkelende olie- en gasbedryf beter te verstaan en toegang tot moontlike loopbaan- en sakegeleenthede te kry. Dit het sedertdien ’n platform geword waar studente, jong beroepslui en entrepreneurs met bedryfskenners, staatsinstellings en sakeleiers kan skakel.
Gesprekke tydens die beraad fokus onder meer op loopbane, vaardigheidsontwikkeling, entrepreneurskap en plaaslike deelname aan die olie- en gasbedryf.
Groter ambisie
Die naamsverandering weerspieël die organisasie se groter ambisie om jongmense in Afrika se opkomende oliemarkte met die tegniese kennis, praktiese ervaring en sakevaardighede van gevestigde olieproduserende lande te verbind.
Die uitbreiding volg ná drie beraaduitgawes in Namibië, met ’n groei in bywoning. Volgens die organiseerders se 2025-verslag het die tweede beraad meer as 400 afgevaardigdes gelok. Die 2026-beraad het oor drie dae meer as 700 deelnemers ontvang.
Die derde beraad het verteenwoordigers van die regering, plaaslike en internasionale oliemaatskappye, finansiële instellings, akademiese instellings, ontwikkelingsagentskappe en jeuggeleide ondernemings byeengebring. Dit het die groeiende belangstelling beklemtoon om jongmense vir geleenthede in die energiesektor voor te berei.
Een van die hoogtepunte van die 2026-beraad was die bekendstelling van die Entrepreneurskap- en Innovasie-aanbiedingsprogram, wat in samewerking met die Namibia Investment Promotion and Development Board (NIPDB) ontwikkel is.
Vyf gekeurde finaliste het die geleentheid gekry om hul sake-idees aan ’n paneel van beleggers en verteenwoordigers van korporatiewe verkrygingsafdelings voor te lê. Die voorstelle het onder meer logistiek, digitale batebeheer, omgewingsbestuur en gespesialiseerde instandhouding gedek.
Strategiese vennote
Die 2026-beraad is ook deur die African Energy Chamber as strategiese vennoot, die Amerikaanse ambassade as vennoot vir denkleierskap en Deloitte as kennisvennoot ondersteun.
Erastus sê die beraad is aanvanklik gestig om die gebrek aan inligting en toegang aan te spreek wat jongmense dikwels ervaar wanneer hulle die bedryf wil betree. “Ons het hierdie beraad gestig omdat jongmense toegang nodig gehad het tot die inligting, mense en praktiese leiding wat deelname moontlik maak. As AYIOGS wil ons hierdie werk oor Afrika uitbrei, terwyl ons stewig in Walvisbaai gewortel bly.
“Ons fokus is om jongmense te help verstaan wat die bedryf vereis, hulle voor te berei om geloofwaardige ondernemings en loopbane te ontwikkel, en hulle in staat te stel om betekenisvol deel te neem aan besluite wat hul toekoms vorm,” het sy gesê.
Die vierde beraad vind in 2027 in Walvisbaai plaas onder die tema Building Africa’s Energy Future.
Die fokus sal onder meer wees op sterker samewerking tussen onderwysinstellings en die bedryf, beter leiding oor tegniese en professionele loopbane, die voorbereiding van ondernemings en verskaffers om aan die bedryf deel te neem, asook kennisuitruiling tussen Afrika se energiemarkte.



Comments
My Zone
No comments have been left on this article