Kos vir honger eksamenskrywers
Met die eksamens op hande, het die Universiteit van Namibië (UNAM) se studenteraad (SRC) ’n inisiatief van stapel gestuur om studente gedurende die eksamentydperk te ondersteun, naamlik die UNAM SRC-eksamenvoedingsprogram.
Die program voorsien gratis etes aan studente gedurende die eksamentydperk, wat vanaf 5 Junie 2026 tot 17 Julie 2026 duur. Maaltye sal daagliks om 07:00, 11:00 en 15:00 voor die SRC-blok op die UNAM-hoofkampus in Windhoek uitgedeel.
Volgens Rosabel Mulunga, die UNAM-hoofkampus se SRC-sekretaris vir finansies, is die inisiatief geïnspireer deur die besef dat baie studente voedselonsekerheid tydens eksamens ervaar.
“Ons wou ’n praktiese manier vind om studente meer as net akademies te ondersteun deur ’n basiese maar noodsaaklike behoefte aan te spreek: toegang tot kos. Die program het in vorige jare positiewe terugvoer van studente ontvang, en baie het waardering vir die inisiatief uitgespreek.”
Studente het die inisiatief positief ontvang.
Amor Mburuu, ’n tweedejaarstudent in geoktrooieerde rekeningkunde, het haar perspektief gedeel. “Ek dink dis ’n goeddeurdagte inisiatief, want eksamens is een van die mees stresvolle tye van die semester. Baie studente fokus op lang ure se studies, die aflegging van eksamens en die nakoming van sperdatums, en soms word basiese dinge soos behoorlike etes verwaarloos.”
Die program word gefinansier uit die SRC se interne begroting, wat deur die kongres toegeken word en verteenwoordigers van al 12 kampusse insluit, insluitend die UNAM SRC-president. SRC-lede sal ook persoonlik etes aan studente bedien tydens die veldtog.
Tans is daar geen bevestigde borge of vennootskappe nie, maar die SRC ondersoek geleenthede vir samewerking om die program in die toekoms uit te brei.
Die program weerspieël die SRC se ondersteuning vir en omgee teenoor die studenteliggaam. Die inisiatief beklemtoon die belangrikheid van studentewelsyn in die bereiking van akademiese sukses deur voedselonsekerheid aan te spreek.



Comments
My Zone
No comments have been left on this article