Minister deel navorsing oor hulpbronskole by NUST

Minister Deel Navorsing Oor Hulpbronskole By NUST
Marina Antonio

Die openbare lesing “A Journey of Turbulence and Transformation”, is verlede week deur die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (NUST) in samewerking met die Universiteit van Namibië (UNAM) aangebied ter viering van die Minister van Onderwys, Sanet Steenkamp, se onlangse verwerwing van ’n doktorsgraad.

Steenkamp, wat in Oktober verlede jaar haar Doktorsgraad in Opvoedkunde aan die Rhodes Universiteit verwerf het, het meer gedeel oor haar tesis, ‘Die Uitbreiding van die Leierskap van Leerondersteunings-onderwysers in Hulpbronskole: ’n Formatiewe Intervensiestudie in Namibië’. Die studie het gefokus op Môreson- en Dagbreek spesiale skole en ondersoek ingestel na hoe leerondersteunings-onderwysers hul leierskap kan uitbrei binne skole wat leerders met spesiale opvoedkundige behoeftes bedien.

Steenkamp het beklemtoon dat baie onderwysers in spesiale onderwys dikwels onderwaardeer word, ten spyte van hulle kundigheid en impak. Deur wat sy beskryf het as “transformasie in beweging,” het haar navorsing sleutelaspekte soos teenstrydighede as katalisators vir verandering, uitbreiding van leierskap, samewerkende transformasie, uitgebreide leer en innovasie, emosionele, etiese en kulturele groei, sowel as sistemiese impak, geïdentifiseer.

Sy beskryf haar ervaring as “’n moeilike reis wat diep insiggewend en baie lonend was.”

Sy het die belangrikheid van ’n akademiese stem beklemtoon en verduidelik dat sy ná die voltooiing van haar meestersgraad in 2002 vir jare van formele studie weggetree het voordat sy in 2015 teruggekeer het.

In ’n gelukwensingsboodskap het die Waarnemende Vise-kanselier van NUST, Andrew Niikondo, Steenkamp geprys vir haar toewyding aan akademiese uitnemendheid binne die staatsdiens. Hy het opgemerk dat wetenskap en leierskap mekaar moet versterk in die bevordering van nasionale ontwikkelingsprioriteite.

“Dr Steenkamp, ons vier u vanaand. Ons dank u vir u diens en wens u geluk met u doktorale prestasie. Ons sien uit na die voortgesette impak van u leierskap,” het hy gesê.

Namens UNAM se Vise-kanselier, het die Pro-vise-kanselier vir Akademiese Sake, Frednard Gideon, gelukwense aan Steenkamp oorgedra. Hy het haar vasberadenheid geloof om ’n doktorale studie te voltooi terwyl sy in ’n veeleisende openbare amp dien, en beskryf die prestasie as een wat “teen alle verwagtinge” behaal is.

Die lesing het as ’n veilige ruimte gedien vir interaktiewe vrae en antwoorde. Teenwoordiges het onder meer gevra oor die aanpassingsmeganismes wat Steenkamp deur oomblikke van selftwyfel gehelp het, sowel as oor die verantwoordelikheid wat met akademiese sukses gepaard gaan en hoe geleerdheid in tasbare impak oorgesit kan word.