'n Dag van lofprysing en omgee

Marilee du Plessis

’n Wonderlike dag van lofprysing, aanbidding en omgee het verlede semester plaasgevind toe leerders en gemeenskapslede saamgekom het om geld in te samel vir mense wat nie hul eie Bybels het nie.

Die leerders het met oorgawe saamgesing en die Here uit volle bors geprys. Dit was ’n besonderse toneel om te aanskou, met almal wat in eenheid saamgestaan het om hul geloof te vier en ander te ondersteun.

Die doel van die geleentheid was om geld in te samel sodat kinders en bejaardes Bybels kan ontvang en die geleentheid kry om meer van die Here te leer en Hom persoonlik te ervaar.

Leerders en onderwysers het bygedra deur banknote en munte te skenk. Die geld is op ’n kreatiewe wyse op die grond uitgepak om die woord “Jesus” te vorm, wat die fokus van die dag op ’n besondere manier uitgebeeld het.

Altesaam N$4 018,05 is tydens die geleentheid ingesamel en aan die Bybelgenootskap van Namibië oorhandig.

Die geleentheid was ’n groot sukses en het gewys hoe ’n gemeenskap kan saamwerk om ’n verskil in ander mense se lewens te maak.