'n Platform vir oplossings

Windhoek Steam Ekspo
So word 'n nasionale markplek vir innovasie gevestig.
Joedy Amia

Die Bank of Namibia (BoN) se ouditorium het op 30 Januarie 2026 behoorlik gegons met innovasie tydens die derde jaarlikse STEAM-ekspo.

Hierdie inisiatief, ’n vennootskap tussen die BoN en die Minds In Action STEAM Centre, het weer eens bewys dat die land se jeug gereed is om die uitdagings van die toekoms met tegnologie en kreatiwiteit aan te pak.

Dika Mulundileni, ’n lid van Minds In Action en een van die koördineerders, het gesê die ekspo is veel meer as net ’n kompetisie en dien ook as ’n kruispunt tussen innovasie en die wêreld daar buite. “Die BoN STEAM-ekspo kombineer innovasie en opvoeding deur leerders die geleentheid te bied om prototipes te ontwikkel vir uitdagings in hul onderskeie gemeenskappe. Dit bewys dat Namibiese jeug, met die regte ondersteuning, nie net verbruikers van tegnologie is nie, maar ook oplossings kan skep.”

Hierdie visie is veral gerig op leerders van afgeleë en minder bevoorregte gebiede wat eers deur die BoN STEAM-kampe aan robotika, elektronika, kodering en 3D-drukwerk blootgestel is.

Inspirasie
Die dag is geopen deur BoN se adjunkgoewerneur, Leonie Dunn, wat leerders aangemoedig het om hul intellektuele nuuskierigheid te koester. Haar boodskap was duidelik: “Nuuskierigheid is jou geldeenheid.”
Erick Nenghwanya, uitvoerende hoof van die Namibië Opleidingsowerheid (NTA), het as hoofspreker opgetree, terwyl die adjunkminister van onderwys, Dino Ballotti, ook teenwoordig was om sy ondersteuning aan die jong innoveerders te toon.

Wenners
Vier skole het aan die ekspo deelgeneem en prototipes aangebied wat daarop gemik is om sosio-ekonomiese kwessies aan te spreek. Die uitslae was as volg:

  1. Sekondêre Skool Mureti

  2. Hoërskool Martin Luther

  3. Sekondêre Skool Onamutai

  4. Sekondêre Skool Romanus Kamunoko

Toekomsvisie
Wat die toekoms betref, is die doelwitte vir die STEAM-ekspo ambisieus. Mulundileni beklemtoon dat die mikpunt is om ’n nasionale markplek vir innovasie te vestig: eerstens om talent te kweek deur ’n pyplyn van innoveerders en entrepreneurs te bou; tweedens om groei te dryf deur STEAM-vaardighede vir sosio-ekonomiese ontwikkeling in te span; en derdens om werk te skep deur onderrig meer prakties van aard te maak.

Vir die res van 2026 beplan die organiseerders om die ekspo na landelike gebiede uit te brei en sterker vennootskappe met die private sektor te smee, sodat leerders se prototipes in werklike aanvangsbesighede (start-ups) omskep kan word.