Pro-Ed speel gasheer vir Securitas NAPSO Privaatskole Sportweek

'n Fees van sport en samesyn
Dit is weer tyd vir die jaarlikse Securitas Napso Privaatskole Sportweek en atlete en toeskouers word na Swakopmund genooi vir 'n viering van sportmanskap en vermaak.
Rozanne Swart

Die Namibiese Privaatskole-organisasie (NAPSO) se Securitas Privaatskole Sportweek, wat jaarliks plaasvind, is om die draai.

Vanjaar reis deelnemers en ondersteuners kus toe, aangesien die geleentheid van 29 April tot 2 Mei deur Pro-Ed Akademie in Swakopmund aangebied word.

Hierdie is die derde keer wat Pro-Ed die geleentheid aanbied.

Die skool se uitvoerende hoof, Christiaan Grobler, sê dit is ’n eer om die geleentheid weer aan te bied. “Vir ons is dit ’n groot voorreg om dit vir ’n derde keer aan te bied, aangesien jy dalk een keer in tien jaar hierdie geleentheid kry.”

Vanjaar word virtuele fietsry as ’n nuwe sport aangebied. Duane Strampe, eienaar van Cyclico, die onderneming wat dié sportsoort fasiliteer, het verduidelik hoe dit werk: “Die eenheid is aan ’n spinfiets se sensor gekoppel. Deur die sensor te gebruik, kan die eenheid die individuele spoed en afstand van elke fietsryer bereken.”

Deelname sal eers in spanverband ry, waarna die top vyf leerders en onderwysers aangekondig sal word om dan individueel deel te neem.

Benewens die sportprogram sal daar ook verskeie ander aktiwiteite plaasvind.

Chrisna Joubert, een van die organiseerders van Pro-Ed, het gesê daar sal vanjaar ’n kosfees wees. “Twaalf buitelugkosstalletjies en Pro-Ed se OOV-span gaan saamwerk om Swakop se lekkerste kos na Pro-Ed te bring.”

Daar is ook ’n biertent vir ouers, asook ’n spesiale stalletjie waar vars oesters, soesji en vonkelwyn bedien word. Verder is daar Vrydagaand ’n sokkie vir die leerders en die sangeres Bernice West tree Saterdagaand op.

Pro-Ed se hoofmeisie Mihandi Fourie het gesê sy sien nie net uit na die sport nie, maar ook na die “saamkuier en opwinding van so ’n geleentheid”. Sy het gesê die hele skool is betrokke en dat leerders oral ingedeel is by funksies en werkstasies.

Ten opsigte van veiligheid word 40 sekuriteitswagte ontplooi terwyl toegang en kaartjies slegs by spesifieke hekke beskikbaar sal wees.