Ruimte geskep vir jong kreatiewe stemme

Jeugkomitee gestig
Die inisiatief poog om toekomstige leiers te bemagtig en vars idees by die fees se voortbestaan te betrek.
Rozanne Swart

Die FNB Windhoek Woordfeeskomitee het ’n opwindende nuwe hoofstuk afgeskop met die stigting van ’n spesiale jeugkomitee. Die inisiatief is daarop gemik om ’n vars stem na die organisasie te bring en die volgende geslag kreatiewe leiers te kweek.

Onderwysminister en beskermvrou van die fees, Sanet Steenkamp, is verheug oor dié stap. Volgens haar lê die toekoms van ’n taal in die harte en hande van jongmense. “Wanneer ons in ons jeug belê, is dit ’n belegging in die voortbestaan van ons kunste, ons kultuur en die ryk taalerfenis van Namibië.”

Sy moedig alle jongmense met ’n passie vir die Afrikaanse woord, musiek en drama aan om dié geleentheid aan te gryp.

Die FNB Windhoek Woordfees is in 2013 deur dr Chrisna Beuke-Muir en wyle Ronelle Rademeyer gestig. Elizma Theron, voorsitter van die komitee, verduidelik dat die hoofdoel van die fees is om ’n liefde vir die Afrikaanse woord in die Namibiese gemeenskap te kweek.

“Ons wil verseker dat die organisasie nog vir jare voortbestaan, daarom is voortdurende vernuwing noodsaaklik. Om jonger gehore te bereik, is dit belangrik om die jeug en hul behoeftes beter te verstaan en insette van hulle te kry,” het Theron gesê.

Sy het beklemtoon dat dit belangrik is vir die jeug om hul eie komitee te hê, aangesien dit vir jongmense makliker kan wees om idees met ’n groep van soortgelyke ouderdom te deel as met ’n groep ouer persone.

Die komitee is op soek na entoesiastiese leerders van regoor Namibië, aangesien vergaderings aanlyn gehou kan word. Om deel van die komitee te wees, moet belangstellendes ’n passie vir Afrikaans hê, goed in ’n span kan werk en oor organisatoriese vaardighede beskik.

Die inisiatief skep nie net nuwe geleenthede nie, maar bou ook ’n sterk grondslag vir die toekoms deur praktiese vaardighede aan jongmense oor te dra. Die feesbestuur en borge sien uit na die vars idees waarmee die nuwe generasie vorendag sal kom.

Theron het ten slotte gesê: “Deur die Junior FNB Windhoek Woordfeeskomitee skep ons nuwe geleenthede en vergroot ons die visie vir kinders in ’n bedryf waarin hulle tans min blootstelling kry.”