Só skop WAP 2023 met ’n slag af

Janita van Wyk
Janita van Wyk

Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) het hierdie jaar sy derde Kuikenkonsert, voorheen bekend as die Sottekonsert, aangebied. Dié naam het in 2021 verander. Dit was ’n aand van skerp - en soms droë - komedie en waaghalsige danspassies wat deur spontane Kuiken-seuns uitgevoer is.

Met ’n wye verskeidenheid items wat deur die loop van die aand opgevoer is, was die konsert ’n volwaardige bron van vermaak. Dit het die geleentheid vir al die graad 8-leerlinge geskep om in die hoërskool verwelkom te word en hulle talente te wys. Met verskeie items op die program - van ’n advertensie vir Boerboel-broeke tot ’n lofgesang deur die Kuikenkoor - was die aand opwindend en goed afgerond.

Die konsert het ook ’n kollig geplaas op ikoniese tonele uit verskillende rolprente - ’n toneel wat fokus op die politiek tussen ouers uit die Afrikaanse fliek Hoofmeisie, die skandalige danstoneel uit die Amerikaanse fliek Mean Girls en selfs ’n optrede wat die onlangse Mej. Werêld uitgebeeld het. Die konsert het iets vir almal gebied en het beslis ’n onvergeetlike ervaring aan alle gaste wat die aand bygewoon het, verskaf.

Hierdie was ook die Kuikenkonsert wat tot dusvêr nog die minste voorbereidingstyd gehad het. Te danke aan beide die leerlingraad en vanjaar se Kuikens was die aand - met skaars twee weke van voorbereiding - steeds ’n groot sukses. Die aand het glad verloop te danke aan al die betrokke partye, insluitend die leerlingraadvoogde, me. Elize van Niekerk en mnr. Petri van Wyk, sowel as ander betrokke matrieks.

Dié jaar het met ’n slag begin en sal beslis nog baie hoogtepunte vir Windhoek Affies inhou, waarvan die Kuikenkonsert beslis reeds een was.