Ambrosius Amutenya: Skool van hoop

‘n Suideskool floreer en het onder meer goeie verhoudings met leerlinge in Amerika.
Michelline Nawatises
Michelline Nawatises





Die Gekombineerde Skool Ambrosius Amutenya is in 2014 op Oranjemund gestig nadat die gemeenskap hul behoefte aan ‘n staatskool aangedui het.

Die hoofrede was dat hulle nie die uitgawes vir privaat skole kon bekostig nie.

Sedert die skool se deure geopen het, het dit aansienlik uitgebrei tot ‘n skool van uitnemendheid.

The Zone het met die skoolhoof, me. Mara Beukes, gesels.

Volgens Beukes het die skool ? lewendige gees en mededingende atmosfeer, asook ? sterk teenwoordigheid in die gemeenskap. “Ons skool is nie ons enigste prioriteit nie. Ons reik ook uit na die gemeenskap deur by liefdadigheidsorganisasies betrokke te word,” sê Beukes.

Hulle kies jaarliks ‘n skool waarna hulle uitreik en vanjaar was dit die Primêre Skool J.A. Kahuika op Kosis.

Die GS Ambrosius Amutenya is voorts betrokke by ? Penpal-program saam met ? skool in die Verenigde State van Amerika. Dit is ? program waarin graad 6-leerlinge vir mekaar briewe skryf en gereelde Skype-sessies onder toesig van hul Engelsonderwysers met mekaar voer. Hulle deel onder meer inligting oor kultuur, opvoeding en lewenskwessies.

Die skool bied elke termyn verskeie aktiwiteite. Een daarvan is die Debutante-bal wat in die tweede termyn plaasvind en die grootse geldsinsameling van die jaar is. Daar is ook die Clash of the Choirs-kompetisie waar tien skole deelneem en twee gaskore van die Noord-Kaap optree.

Volgens Selma Mupetami, die voorsitter van die leerlingraad, motiveer sy deurgaans haar medeleerlinge om al die geleenthede te benut wat hulle kry. “Ons moet ook gebruik maak van tegnologie, as deel van die nuwe kurrikulum.”

Die skool is vernoem na mnr. Ambrosius Amutenya, die eerste swart Namibiese gegradueerde wat by Namdeb aangestel is.

Volgens Beukes beteken die skool se naam “hoop”.

“Ons wil vir kinders hoop gee sodat hulle nooit moed opgee nie, maar hul beste gee in alles wat hulle doen.”