Bredasdorp wink vir topatlete
Mianey BothaDie atleet se hart hamer in sy borskas. . . Sy senuwees knaag. . .
Hierdie is die oomblik waarvoor hy só hard gewerk het.
Alles om hom is stil. ’n Skoot klap, ’n spies vlieg, ’n bal val en iemand trek deur die lug.
Dít alles gaan op 20 Oktober by vanjaar se Skole Top-10-atletiekbyeenkoms op Bredasdorp plaasvind.
Die Skole Top-10 is 'n nasionale atletiekbyeenkoms vir laer- en hoërskole, waarna slegs die top-10 atlete van elke skool uitgenooi word.
Na verwagting sal meer as 1 500 topatlete uit sowat 50 skole aan verskeie items deelneem.
Die skole sluit in Paul Roos Gimnasium, Hoërskool Outeniqua, Grey College, die Hoër Meisieskool La Rochelle en skole uit die hele Kaapprovinsie.
Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) gaan ter voorbereiding vir die komende atletiekseisoen hieraan deelneem, asook as beloning aan atlete vir hul harde werk en prestasies vanjaar.
Die toer sluit ’n afrigtingsessie met LJ van Zyl in, asook verskeie ander afrigters. Dít sal van 24 tot 27 September plaasvind.
Die top-10 atlete gaan die skool ook op 29 September by die Old Mutual-atletiekbyeenkoms op Swakopmund verteenwoordig.
Tydens die toer in Suid- Afrika, sal atlete ook Kaapstad, Hermanus en Gordonsbaai verken.
Hulle sal saam met Johan Zaayman en Marcelle Janse van Rensburg toer.
Dit sal Windhoek Afrikaanse Privaatskool se tweede keer wees om die Bredasdorp-byeenkoms by te woon.
Verlede jaar was dié toer ’n groot sukses en die atlete het baie uit die geleentheid geleer.
Hulle het onder Johan Zaayman, toerorganiseerder, se leiding ook geestelik gegroei.
Verlede jaar het sewe WAP-atlete die toer bygewoon en goeie uitslae behaal.
Vanjaar neem 10 WAP-atlete deel: Porsche Botha, Jeanelle Steenkamp, Ruben Maree, Aldo Horn, Gerhard Steenkamp, Demi Louw, Nico Tromp, Johnathan Hanekom, Jandia van Wyk en Eduard Spies.
Die skool bedank Air Namibia vir die spesiale pakkette wat vir ons atlete beskikbaar gemaak is en wens die betrokke atlete wat die skool gaan verteenwoordig, alle sterkte toe.
Mag julle die vrugte van al jul harde werk op die atletiekbaan pluk.
Comments
My Zone
No comments have been left on this article