Die eerste span rugby toer

Leandrea Louw
Samar Van der Merwe

Pro-Ed se eerste rugbyspan het die 17de tot die 20ste Maart 2019 die bekende rugbytoernooi en -ontwikkelingsoefenkamp by Camp Discovery in Limpopo bygewoon.

Ons het baie hard voorberei vir hierdie groot geleentheid en het 110% gegee om suksesvol daaruit te kom. Ons het met goeie gees vir ons skool en spanmaats die naweek aangepak en het enduit goeie sportmangees getoon.

Ons was ook die eerste en enigste verteenwoordigers van Namibië wat dit bygewoon het. Ons het die 18de Maart ons eerste wedstryd gespeel teen ’n bekende skolerugbyspan van Brits. Ons het vir 80 minute hard geveg vir ons punte en het uiteindelik die wedstryd met 29 - 14 ingepalm. Ons het Pro-Ed trots gemaak en ons het ook vir Suid-Afrika gewys dat Namibiërs ook lekker harde rugby kan speel.

Godwin Silvanus is aangewys as die Speler van die Wedstryd en het ’n prys van Puma ontvang. Ons het ons goed gedra regdeur die hele toernooi. Die Namibiërs het met gerekte oë gekyk na die swak maniere van sommige van die spanne. Met tye het die spanne so geraas dat die spelers glad nie die spanpraatjies of instruksies kon volg nie. Pro-Ed het ons opponente en hulle leersame geleenthede gerespekteer en ons skool se naam hooggehou. Ons het bewys dat ons as Namibiërs vir mekaar omgee en dat Pro-Ed se jongmense aangenaam en opgevoed is.

Ons het ook die uitstekende kans gekry om opleiding en raad van die Junior Leeus te kry. Wat ’n wonderlike geleentheid!! Die 19de Maart het ons teen Hopetown opgedraf met skooltrots in ons harte en vuur in ons oë. Ons het ons opponente met 43 - 7 gewen.

Marco Malan is aangewys as die Speler van die Wedstryd na hierdie groot oorwinning. Ons het ook die voorreg gehad om die Blou Bulle-spelers in aksie dop te hou voordat hulle teen die bekende Chiefs op Loftus Versveld uitgedraf het.

Ons het gesien hoe die Bulle hul daaglikse oefening inkry en ons het ook baie nuwe tegnieke geleer. Ons het die ongelooflike geleentheid gehad om foto’s saam met ons gunsteling spelers te neem, om baie nuwe herinneringe op te bou om met ons vriende en familie te deel.

Ons het ’n fantastiese toer deur die hele Loftus gehad en het van hulle ongelooflike geskiedenis geleer en bietjie wyser geword oor die ryk agtergrond van Suid-Afrikaanse kompeterende rugby. Ons het na die hele uitstappie ’n baie duideliker idee gehad van wat professionele rugby behels.

Ons het ons toer gebruik om ’n voorsprong op te bou vir die seisoen wat voorlê en om ons skool trots te maak oor wat ons saam as span kan bereik. Ons was in baie opsigte definitief een van die beste spanne by die toernooi.

Welgedaan Pro-Ed! Jul het jul lywe, harte, beursies en geloof op die spel gesit om die skool se naam hoog te hou. Ons is opgewonde om te sien hoe ons span die stewige rugbyseisoen wat voorlê, gaan aanpak.