Draf vir die wat nie kan nie

Vier hoërskoolseuns het besluit om te draf vir liefdadigheid en hierdeur geld in te samel vir ’n sentrum in Windhoek wat kinders met gestremdhede versorg.
Mariselle Stofberg
Mariselle Stofberg

As deel van hul lewensoriëntering-gemeenskapsprojek het vier hoërskoolseuns van Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) besluit om ’n projek te begin met die doel om die Side by Side Early Intervention Centre in Windhoek te ondersteun.

Die Side by Side Early Intervention Centre maak voorsiening vir kinders met spesiale behoeftes en help veral kinders met serebrale verlamming.

Drikus Pearson, Marthinus Kesslau, Matthias Günter en Gavin Briers – almal graad 10-leerlinge – het die sentrum besoek waar hulle kinders ontmoet het wie se stories hulle geïnspireer het.

“Ons het besef hoe bevoorreg ons is om al ons ledemate te kan gebruik, en het besluit om ’n drafprojek te begin waar ons geld insamel deur te draf en borge te kry vir elke kilometer wat ons draf. Ons projek se slagspreuk is ‘Running for those who can’t’,” het Günter gesê.

Tydens hul besoek aan die sentrum het me. Huipie van Wyk, die direkteur, ook aan die leerlinge ‘n kort kursus en inligtingsessie gebied oor hoe hulle die kinders by die sentrum versorg.

“Dit was ‘n voorreg om die seuns hier te kan hê. Hulle is die begin van ‘n nuwe generasie jongmense wat sal help baklei vir bewustheid en inklusiwiteit vir alle kinders in ons land,” het Van Wyk gesê.

Die groep se mikpunt is om altesaam 500 km te draf in ’n tydperk van sewe weke. Elke lid van die groep draf op hulle eie en teken die kilometers aan wat hulle draf om die groot totaal te bereik.

Die groep het op 6 Februarie weggespring en sal hul laaste kilometers op 27 Maart aflê, waar hulle beoog om by die sentrum te eindig, waar die kinders van die sentrum hulle sal inwag.

“Ons wil hierdeur geld insamel om die ongelooflike werk van die sentrum te ondersteun. Ons wil deur die draf hulle help om nog kinders te ondersteun en te versorg,” het Pearson bygevoeg.

“Hierdie kinders is baie kwesbaar, en deur die projek hoop ons om bewustheid te skep vir hulle, die werk wat Side by Side doen en die belangrikheid van ondersteuning aan die gemeenskap,” het Kesslau gesê.

Die leerlinge maak geen wins uit die projek nie en alle fondse sal gebruik word om Side by Side te ondersteun.

Die groep het teen 15 Maart reeds 343 kilometer afgelê.

Belanghebbendes kan skenkings aan Side by Side maak deur PayToday met die verwysing “running@wap” te gebruik of die skakel https://iim.intouch.dev/werun2021?r_done=1 te volg vir meer inligting oor die projek.