Gobabis Gymnasium Boogskiet
-Suandri VoordewindDie boogskietklub van Gobabis Gymnasium het by die NAPSO wintersport weereens bewys hulle is 'n span om mee rekening te hou deur vir die derde agtereenvolgende jaar die goud vir senior spanne te wen. Twee individuele goue medaljes is ook ingepalm met Edward Kesslau en Leonise Human se goud vir senior seuns en meisies.
Bogenoemde feit word onderskryf deurdat Gobabis Gymnasium tans die heersende nasionale kampioen span in Namibie is en met 5 lede in die Namibiese span van sestien spog.
Willem Lottering, Edward Kesslau, Wiaan Lottering, Leonise Human en Mari Louw het Namibia in die onlangse NASP Afrika Kampioenskap verteenwoordig waar hulle net-net teen Suid-Afrika verloor en die silwer medalje verower het. Namibie het na die finaal deurgedring deur 'n baie sterk en ervare span van Zimbabwe in die uitkloprondtes uit te stof. Leonise Human en Marie Louw is ook onderskeidelik die heersende Namibiese senior en junior meisies kampioene.
Die klub bestaan tans uit 21 aktiewe lede. Daar is veral 'n groot leemte met die junior getalle. Dit is ook die beste tyd om te begin boogskiet aangesien boogskiet 'n baie tegniese sport is. Die sport help by uitstek om leerders te leer fokus en om druk te kan hanteer. Dis 'n individuele en gedissiplineerde sport waar jy teen jouself kompeteer. Gobabis Gymnasium se klub plaas die fokus daarop om altyd beter as jou vorige kompetisie te skiet en om eer aan die Here te gee deur jou talent te beoefen.
Buiten bogenoemde nasionale en NAPSO prestasies was die Gobabis Gymnasium kampionskap wat op 16 Februarie 2019 op die sportgronde aangebied is 'n hoogtepunt. 'n Rekord getal van 122 skuts van 17 skole van reg oor die land het die kampioenskap bygewoon.
Gobabis Gymnasium boogskietklub se ouers staan ook nie terug nie. Mnr Dewaal Louw is verkies tot die NASP volwasse boogskietspan wat 'n silwer medalje op die Afrika Kampioenskappe verower het. Mnr Dewaal Louw is tans die waarnemende voorsitter van NASP Namibia en Mnr Leon Human is die verteenwoordiger van die Ooste op die nasionale komitee.
Op die 14de September 2019 vind die 4de nasionale kampioenskappe by St Georges skool in Windhoek plaas en sal Gobabis Gymnasium meeding om die derde agtereenvolgende jaar die Namibiese kampioen boogskietskool te wees!
Comments
My Zone
No comments have been left on this article