Groepsdruk: Vou jy of floreer jy?

Mariselle Stofberg
Beatri Turner

Tieners word daagliks met groepsdruk gekonfronteer. Jy ly óf daaronder, óf jy is die een wat ander druk om jou voorbeeld te volg. Maak nie saak wíe jy is nie, almal wil iewers inpas.

Soos tieners op skool leer, kan jy gedruk word om iets voordelig en positief, of negatief en nadelig te doen. Dit kan ’n goeie, of slegte uitwerking op jou en die mense om jou hê. Die Blou Kudu wou weet waar leer tieners van groepsdruk en hoe om dit te hanteer?

Is kinders gemaklik om oor groepsdruk te praat?

Leerlinge van WHS het verskillende antwoorde gehad toe daar vir hulle gevra is of groepsdruk ’n oop onderwerp in hul huis is. Sommige leerlinge het ja gesê en ander het net hul skouers opgetrek. Dit kan dalk wys dat kinders meer ondersteuning by die huis nodig het in terme van die hantering van groepsdruk, of dat hul eenvoudig nie die behoefde het om met hul ouers oor groepsdruk te gesels nie, of dat hulle nie eintlik groepsdruk ervaar en dit nodig vind om tuis daaroor te praat nie.

Groepsdruk- positief of negatief?

Toe WHS-leerlinge gevra is of hul dink dat groepsdruk mense meestal positief of negatief beïnvloed, was daar sommige antwoorde wat van mekaar verskil het en party leerlinge het gevoel dat dit van die situasie afhang. Dit is verstaanbaar, omdat almal groepsdruk anders ervaar en verskillend in situasies optree. Soms dryf dit jou om beter te wees, maar soms kan dit iemand seermaak in die proses.

Navorsing ondersteun die feit dat groepsdruk nie net individue raak nie, maar ook besighede in verskeie industrieë. Vele leerlinge het hiermee saamgestem toe hul antwoord dat groepsdruk meer word as jy ouer raak. Sommige leerlinge voel dis omdat mense meer blootstelling aan verskillende situasies kry soos jy ouer raak.

Groepsdruk vs boelie

Daar was weer verskillende antwoorde op die vraag: “Is daar ’n verskil om geboelie te word, of om gedruk te word om iets te doen waaroor jy ongemaklik voel?”

Sommige WHS-leerlinge het gevoel daar is nie ’n verskil tussen die twee situasies nie. Ander voel weer dat as jy gedruk word om iets te doen, jy steeds in ’n posisie is om nee te se, maar as jy geboelie word, word ’n persoon geforseer om iets te doen en daardie persoon kan nie altyd van die situasie af wegstap nie.

Raad vir iemand wat groepsdruk ervaar

Volgende is leerlinge gevra wat hul vir iemand sou sê wat hul druk om iets te doen waaroor hulle ongemaklik voel. Antwoorde soos “Skaam jou!” “My ma het gesê om dit nie te doen nie” en ’n eenvoudige “Nee!” was net ’n paar antwoorde wat uitgekom het.

Laastens is daar vir leerlinge gevra watter raad hulle het vir ander wat onder groepsdruk ly en almal se antwoorde was basies: “Sê net nee,” “loop weg” en “loop sommer na ander vriende toe.”

Die gevolgtrekking van die Blou Kudu se navorsing, is dat daar niks fout daarmee is om nee te sê as jy ongemaklik voel om iets te moet doen nie. Elkeen het die reg om sy eie besluite te neem en daarmee gelukkig te wees.

Die slotsom wys daarop dat die leerlinge wat ondervra is, nie gereeld met groepsdruk sukkel nie. Almal is wel nie so gelukkig nie en kan dalk met probleme van groepsdruk sukkel.

Wat sê die kenners

Gielie Hoffman, ’n leierskapskonsultant wat leierontwikkeling by skole en universiteite doen, erken dat hoewel groepsdruk onvermydelik is, jy jou deel kan doen om ander te help wat hierdeur geraak word.

Tekens van groepsdruk onder kinders:

Verandering in gedrag

Gevoel dat jy nie inpas nie

Behoefte om nuwe goed te probeer

Fokus op jou voorkoms

Vergelyk jouself met ander

Doen goed wat jy nie normaalweg sal doen nie

Skoolwerk word afgeskeep

Weet net dat daar altyd hulp beskikbaar is: Tuis, by die skool, of om 116, wat ’n hulplyn is, te SMS of te bel. Enige iemand kan ook die hulplyn “Life Line” van Namibië kontak by +264 61 226 889.