Harde werk net om huur te betaal

Octavia Tsibes
Mishin Phiri

Daar is meer as 200 000 inwoners in Windhoek en meer as driekwart van hulle bly in ’n huis of woonstel waar hulle huur moet betaal aan die eienaar.

Die grootste deel van huurders is eintlik studente wat by universiteite is en wie se ouers buite Windhoek bly. Die vraag is wat gebeur nadat jy gradueer en nou jou lewe moet begin sonder dat jou ouers jou help huur betaal? Baie van die ouers ondersteun hulle nie meer nie en hulle is verantwoordlik om self huur te betaal, maar dit is peperduur.

As gevolg daarvan word die studente wat nuut begin, gedwing om die meeste van hul salarisse te gebruik om losies te betaal. Daarna is daar amper niks oor nie. Baie studente het hul universiteit betaal met studentelenings en nou moet hulle die studielenings ook terugbetaal wat druk op die studente plaas.

Die salaris wat jy verdien wanneer jy begin werk, maak dit soms moeilik om huur te betaal, want die lening moet terugbetaal word en jy wil nog steeds 'n ordentlike leefstyl hê. Die geld wat ons verdien in die eerste paar jare wat ons werk, is eintlik nie ons s'n nie, want dit behoort aan ander mense.

Vandag werk ons nie vir ‘n beter lewe nie, maar om ryk mense ryker te maak, want ons almal het 'n plek nodig. Dit is rêrig hartseer dat dit die manier is hoe die jeug van Namibië hulle lewens uit hul ma se nes begin. Ongelukkig gaan die huurpryse net op en ons word vasgemaak aan omstandigheide wat ons nie kan verander nie. Ek wens net my skool het my goed voorberei vir al die verrassings.