Jaarlikse Woestyn Sportfees maak WBPHS uniek
Renate PotgieteWalvisbaai Privaat Hoërskool het vanjaar hul 3de FNB Woestyn Sportfees vanaf 29 Maart tot 2 April op hul skoolgronde in Walvisbaai aangebied. Verskeie rugby-, netbal- en hokkiespanne vanoor die hele Suid-Afrika (7 skole) asook Namibië (6 skole) het by hierdie fees bymekaar gekom om vriendskapsbande op te bou. Dit was ook die ideale geleentheid om kragte te meet teen verskillende skole. Die Suid-Afrikaanse skole was Hoërskool Menlo Park, Landbouhoërskool Oakdale, Hoërskool Hermanus, Hoër Volkskool Heidelberg, Hoërskool Driehoek, Hoërskool Klerksdorp en Hoërskool Brackenfell. Die skole wat Namibië by hierdie fees verteenwoordig het, is Privaatskool Elnatan, Pro-Ed Akademie, Tsumeb Gimnasium, Windhoek Hoërskool, Windhoek Gimnasium en natuurlik, Walvisbaai Privaat Hoërskool.
Walvisbaai Privaat Hoërskool se Woestyn Rugbyfees het in 2014 vir die eerste keer plaasgevind. Dit was ? inisiatief van WBPHS se destydse adjunkhoof en Algemene Bestuurder: Sport, Wynand Moolman. Die fees se naam is in 2015 verander na “FNB Woestyn Sportfees” toe FNB die hoofborg geword het en dit sluit nou hokkie, rugby en netbal in.
Hierdie sportfees van WBPHS is duidelik ? unieke fees en skop elke jaar af met hul " Grand Opening" . Die seremonie begin met ? optog, voorstelling van spanne, hys van vlae en sing van volksliedere. ? Vertoning deur WBPHS se graad 12-leerders word aangebied en daarna is die fees amptelik geopen. Daar word ook elke jaar ? kerkdiens vir al die eerste spanne gehou, ? verwelkomingsfunksie vir die eregaste, borge en afrigters, asook ? sosiale aand vir die kinders gedurende die week. Die spanne kry ook ? rusdag waarop die besoekerspanne aan verskeie aktiwiteite deelneem, byvoorbeeld dolfynritte en vierwielfietsritte. Die fees help dus nie net om Namibiërs en Suid-Afrikaners nader aan mekaar te bring nie, maar stel die Suid-Afrikaners ook aan ons mooi land, Namibië, bloot.
Die vriendskapbande wat gesmee word, duur ook nie net vir dié week nie, maar vir ? leeftyd. Verskeie leerders het bevestig dat hul steeds in kontak is met baie van die leerders wat by die Woestynfees was. Mevrou Charmaine Nagel, onderwyseres by WBPHS, sê: " Hierdie geleentheid spreek boekdele van geesbou, spanwerk en kameraderie propvol geprop met Namibiese gasvryheid waar vriendskapsbande gesmee word tussen hokkie-, netbal- en rugbyspelers."
Die FNB Woestyn Sportfees help ook om WBPHS se leerders nader aan mekaar te bring. Die skool werk saam aan die voorbereiding vir en ontvangs van al die verskillende spanne. Die gemeenskap, en selfs die res van die land, spring ook in. Namibië groei dus in geheel en hierdie fees is ? hoogtepunt op baie Namibiërs se kalenders.
Walvisbaai Privaat Hoërskool se FNB Woestyn Sportfees is ? jaarlikse instelling op die Namibiese asook Suid-Afrikaanse kalender. Om so ? fees te reël, het in vele opsigte uitdagings. Henjan van der Hyde, Direkteur: Sport by WBPHS, en Quintus Erasmus, Feesdirekteur, voel dat die fees uniek is in die opsig dat dit eksklusief is en al die wedstryde internasionaal is: geen Suid-Afrikaanse skole speel teen mekaar nie, asook geen Namibiese skole nie.
Die doelwit van die fees vir die toekoms is om ses top Suid-Afrikaanse skole en 6 top Namibiese skole op ? jaarlikse basis teen mekaar te laat meeding in rugby, hokkie en netbal. Daar is geen trofeë op die spel nie en wedstryde word uitsluitlik gespeel met die doel op voorbereiding vir die ligaseisoen.
WBPHS se doel is om die fees vir elkeen ? unieke ervaring te maak.
Comments
My Zone
No comments have been left on this article