Karatekas kry erkenning
Die Kyokushin Budo Karate Organisasie het sy prysuitdeling op 1 Desember by die Windhoek Internasionale Skool gehou.
Michelline NawatisesKyokushin het vyf skole en is die enigste organisasie wat studente twee keer per jaar gradeer. Die kriteria is: Beste geklee, mees stiptelike, meeste verbeter, mees geesdriftige en mees toegewyde.
Kyokushin Budo Karate het tans 162 leerlinge in Windhoek, asook verskeie volwassenes wat in verweerkuns opgelei word. Die kantoor is by die Westlane-winkelsentrum.
Die organisasie het verskeie prestasies vanjaar behaal. Dit het in Maart die eerste All Africa Knock Down-kampioenskap op Walvisbaai aangebied. Daar het die studente 75 medaljes gewen. Ander deelnemers was van Suid-Afrika, Zambië, Angola en Duitsland. Kyokushin Budo Karate het terselftertyd 'n suksesvolle, internasionale kamp aangebied. Dit het ook die Nasionale Kampioenskappe van die Nambië Karate Unie bygewoon, waar die lede 13 medaljes ingepalm het. Die hoofinstrukteur, Simba Kizito Mangaba, is genooi om in Augustus 'n opleidingskursus en gradering in Europa aan te bied.
Die doel van die organisasie is om meer skole te betrek in ander dele van Namibië, maar die huidige uitdaging is 'n gebrek aan instrukteurs.
Die sportman van die jaar is Alex Ilukena, 'n 14-jarige leerder van Windhoek Hoërskool. Hy het gesê dit is ‘n groot eer en prestasie. Ilukena doen die afgelope drie jaar karate en het die titel “beste vegter” en ‘n goue medalje verwerf by Desert Storm wat in September op Walvisbaai gehou is.
"Niks is onmoontlik nie. As jy daarop fokus, sal jy dit bereik," het Ilukena sy mede-karatekas gemotiveer.
Nog 'n student, Rongwani Filix Mbensu, het gesê selfverdediging is noodsaaklik en goed vir ‘n mens op baie vlakke. "Ek sien 'n reuseverskil in en aan myself in vergelyking met toe ek daarmee begin het," het hy gesê.



Comments
My Zone
No comments have been left on this article