Kortflieks op selfone

Die Eco-Kids Namibia-rolprentprojek is verlede week in Windhoek bekend gestel.
Octavia Tsibes
Octavia Tsibes

Die Eco-Kids Namibia-rolprentprojek se doelwit is om kinders deur middel van kreatiewe storievertelling te bemagtig.

Kinders word met die projek geleer hoe om vermaaklike en opvoedkundige kortflieks op hul selfone te maak. Die kortflieks moet 3 tot 5 minute lank wees. Alledaagse temas word vasgevang om sodoende kykers ’n blik op hul lewe te gee.

Volgens Krischka Stoffels, uitvoerende sekretaris van die Namibiese Rolprentkommissie, is die projek, wat in 2013 van stapel gestuur is, vanjaar groter en beter. Leerlinge van Windhoek, Rehoboth en Okahandja word uitgenooi om aan vanjaar se projek deel te neem.

Stoffels sê dit belangrik om leerlinge bewus te maak van wat die rolprentbedryf behels en wat hulle moet studeer om eendag 'n loopbaan daarin te volg.

Sy sê erkenning moet ook gegee word aan die groot invloed wat jeugtemas op die internasionale rolprentbedryf het. Die fliek Black Panther is as voorbeeld genoem. "Ek het onlangs die openingsaand van Black Panther bygewoon. Dit het meer as U$200 miljoen gedurende die openingsnaweek gemaak. Die storie, wat in 'n futuristiese Afrika-dorpie plaasvind en met 'n ten volle swart rolverdeling, het geskiedenis gemaak," sê sy.

Stoffels sê storievertelling is 'n belangrike Afrika-tradisie wat Namibië se jeug sal toelaat om hul erfenis te herwin.

Volgens haar sal die Eco-Kids-projek ook as 'n platform vir jong mense dien om belangrike mense in die plaaslike filmbedryf te ontmoet.

"Ons is oortuig dat die projek belangstelling in hierdie kunsvorm sal skep en kinders rolprentvervaardiging as lewensvatbare loopbaan sal laat oorweeg."