Leerlingraad Leierskapstoer 2017

Marguerite Wieland
Die leerlingraad van 2017 het die voorreg gehad om vanaf die 15de Maart tot die 25ste Maart ‘n leierskapstoer te geniet in en rondom die beeldskone Pretoria.

Met Juffrou René Conradie se deeglike beplanning, kon die leerlingraad ‘n bekostigbare toer van tien dae beleef. Tydens die toer het hulle die geleentheid gehad om met spogskole soos Pretoria Afrikaans Seunshoër en Waterkloof Hoërskool se leerlingraad te gesels en wenke uit te ruil. Die leerlingraad het vir twee aande by verskeie onderhoofseuns van Pretoria Affies oornag, saam met hulle skool bygewoon en klas gedraf. Die hoofseun en hoofdogter, Michael Zapke en Marguerite Wieland het met die skoolhoof van Affies gesels en het albei by die saalopening van Affies en die vierkantopening van Waterkloof verslag gelewer van hoe ons dinge reg doen by Pro-Ed Akademie. Die leerlinge en onderwysers was stomgeslaan deur die gemanierde, gebalanseerde skoliere wat Pro-Ed Akademie die wêreld instuur.

Verder het die leerlingraad die eer gehad om met meneer Brandt Pretorius te gesels oor leierskap en die doel daarvan. Die toer was egter nie net vergaderings en formele vergaderings nie, maar het ook vele prettighede byvoorbeeld ysskaats, Bounce en mini-golf behels. Swem in Juffrou René se tuin, sowel as ontdekkingstogde en baie, baíe maaltye was ook deel van die pret.

Die leerlingraad wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om baie dankie te sê aan Juffrou René vir haar ure se beplanning. Meneer Deon vir sy vertroue in en leiding van die groep, Meneer Christiaan vir die bestuur van die bussie en die morele ondersteuning, en dan natuurlik die Beheerraad, sonder wie se toestemming die toer nie sou kon realiseer nie.