Met woorde na Capitol Hill

Mariselle Stofberg
Dioné Adjani Izaks



Die wêreld sit vasgenael voor hul televisiestelle, selfone, skootrekenaars en iPads en aanskou hoe Joseph Biden as die 46ste president van Amerika ingehuldig word. Wat 'n historiese oomblik, nie net vir Amerika nie, maar die wêreld.

'n Handjie vol mense is toegelaat om die geskiedkundige oomblik by te woon, met onder andere oud-president Barack Obama, die Clintons en Lady Gaga wat teenwoordig was.

Meteens word dit dan aangekondig dat Amanda Gorman na vore moet kom en skielik verskyn daar 'n klein fyn dame op die podium met stra­lende wangetjies, geklee in 'n warm kanariegeel baadjie en bloedrooi haarband, wat troon bo haar kop onder haar weggesteekte vlegsels.

Met trots, eerbied en grasie betree sy die podium as afgevaardigde om 'n gedig op te dra by die historistiese inhuldiging van die nuwe president.

Wat 'n voorreg en wat 'n taak om voor verantwoordelik te wees.

Kyk, ek wil nie in haar skoene wees nie, want dis nie net sommer enige takie nie. Nee kyk, sy moet groot skoene vul, soos dié van die legende Maya Angelou wat haar ook al in die posisie bevind het, maar wat Gorman op daardie oomblik doen is meer as net skoene vul.

Sy het vir die wêreld gewys dat sy nie mense se skoene hoef te vul nie, maar haar eie koers gaan inslaan en haar goddelike talent ten toon gaan stel nie vir haarself nie, maar haar talent gaan deel met die wêreld.

Sy het haar eie skoene vol gestaan en dis asof sy vir daardie oomblik, daardie enkele minute 'n towerstaf geswaai het en die hele wêreld bekoor het met haar kuns, haar talent, haar siel en haar hoop vir haar land en die wêreld.

'n Mens kon sien dat dit nie selfsug was nie.

Geen “eie ek” was hier ter sprake nie. Net sy en haar talent. Woorde is haar gawe. Woorde is haar kuns. Woorde is haar medisyne. Woorde is sy. Sy is woorde.

Mag ons ook die gawes wat die Here vir ons gegee het, in kuns ver­ander en tot voordeel gebruik vir ander.