MH Greeff staan vir uitnemendheid
‘n Laerskool in die hoofstad inspireer met sy spanwerk om skoolgaan vir leerlinge so aangenaam moontlik te maak.
Evany van Wyk Met my onlangse besoek aan die Primêre Skool MH Greeff in Windhoek was ek aangenaam verras deur almal se doelgerigtheid daar.
? Vriendelike sekretaresse het my verwelkom en verwys na die skoolhoof van die afgelope ses jaar, mnr. George Kandetu.
Dié ervare onderwysman is reeds 25 jaar in die beroep en uiters gewild onder sy leerlinge.
Terwyl ons deur die skoolgange van die skool gestap het, is mnr. Kandetu van alle kante deur opgewonde kinders bestorm wat hom drukkies wou gee.
“Die feit dat ons as ? span werk in elke sin van die woord, maak ons skool uniek,” sê die hoof. Die skool se leuse is gehalte-onderrig, om die leerlinge se skoolloopbaan die moeite werd te maak.
“In my hoedanigheid as skoolhoof wil ek graag uitreik na die kinders wat die meeste deur struikelblokke in die gesig gestaar word, die buiteperde,” sê mnr. Kandetu. “By MH Greeff glo ons daarin om ons eie diamante te slyp.”
Twee van dié diamante is Ndemuyeleka Kambode, die hoofmeisie vir 2019, en Diego Rooi, die hoofseun. Die ywerige leiers is passievol oor hul posisies en het my vrae soos kenners beantwoord.
Ndemuyeke sê sy dink sy is gekies omdat die leerlinge haar potensiaal raakgesien het. “Hulle het voor my geweet dat ek gemaak is vir die rol,” sê sy.
Diego sê dit is omdat hy ? sekere mate van respek afdwing wat maak dat die kinders na hom luister. “Ek het goeie leierseienskappe,” meen hy.
Albei wil ? positiewe verskil maak in hul jaar as leiers. “Ek wil sien dat kinders nie meer geboelie word nie,” sê Ndemuyeleka. Sy glo dat ? anti-boelieveldtog ? goeie begin sal wees.
Diego is bekommerd oor die leerlinge wat onder moelike omstandighede skool bywoon.“Die kinders kom honger skool toe. Ek dink as van die leerlinge kan bydaes maak, kan ons die sopkombuis oopmaak sodat die kinders kan eet,” sê hy.
Volgens die Lewensvaardighede-onderwyseres, me. Nzehengwa Candy, is die grootse uitdaging by die skool tans ? gebrek aan ? fasiliteit vir spesifiek dié vak.
“Ek het nie ? plek waar ek privaat kan praat met leerlinge en ouers nie,” sê sy.
Die skool het ‘n beroep op ouers gedoen om as vrywilligers by die kombuis te kom uithelp sodat die kinders kan kos kry.
Die skool sal volgende termyn volstoom wegspring met hul sosiale klubs, naamlik Dreams en Window of Hope. Twee van die leerlinge, David Klaaste en Jé-dy Rhodes, is ook betrokke by die Childline-radiostasie, Uitani. Die twee is gekies as omroepers wat elke week praat oor probleme wat kinders oor die hele land raak.
Groot verwikkelinge is op die horison vir die gedrewe span van die Primêre Skool MH Greeff waar problem uitgewys word en aan oplossings gewerk word.
Comments
My Zone
No comments have been left on this article